Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Inwoners, ondernemings en staatsinstansies skuld Tshwane-metro R25,9 miljard

Die Tshwane-metro se jongste skuldverslag vir die tydperk van April tot einde Julie 2025, toon dat inwoners, ondernemings en selfs regeringsdepartemente die metro ʼn verstommende R25,9 miljard skuld vir dienste soos elektrisiteit, water en eiendomsbelasting.

Hoewel dit effens verbeter het sedert Junie se R26,4 miljard, bly die skuldlas buitengewoon hoog en ondermyn dit die metro se vermoë om basiese dienste soos krag en water doeltreffend te lewer.

Die grootste deel van die skuld bestaan uit rente op ou skuld, wat 28,6% van die totaal uitmaak. Dit dui daarop dat betalings stelselmatig laat gemaak word wat lei tot rente wat aanhou opbou.

Onbetaalde waterrekeninge dra 21,9% by tot die skuld, terwyl agterstallige eiendomsbelasting 19,3% uitmaak. Kragrekeninge wat nie betaal is nie, verteenwoordig 12,7% van die skuld en ander dienste soos vullisverwydering en munisipale fooie dra ’n verdere 17,5% by.

Hierdie komponente vorm saam meer as 82% van die totale skuld. Wat die situasie vererger, is dat R17,8 miljard van die skuld reeds ouer as ’n jaar is. Dit beteken dat die metro waarskynlik nooit daardie fondse sal verhaal nie, aangesien die meeste van hierdie skuld as oninvorderbaar beskou word.

Alhoewel daar ’n toename is in inwoners wat afbetalingsooreenkomste aangaan, is dit onvoldoende om die skuldkrisis te keer. Indien hierdie tendens voortduur, kan die metro se finansiële stabiliteit in chaos verval en dienslewering verder agteruitgaan.

Die tyd het aangebreek vir die metro om strenger op te tree om te voorkom dat munisipale skuld verder opbou en dat daar aktief gewerk moet word om uitstaande skuld te verhaal.

Inwoners wat afbetalingsooreenkomste aangegaan het, moet daarby gehou word en die metro moet verseker dat dié skuld nie verder toeneem nie.

Hierdie skuldlas is ’n direkte bedreiging vir elke inwoner van die Tshwane-metro.

Wanneer miljarde oninbaar bly, droog die metro se vermoë op om basiese dienste soos water, krag, padinstandhouding en afvalverwydering te finansier.

Die gevolge is reeds sigbaar in krane wat leeg bly, ligte wat nie brand nie en padinfrastruktuur wat verkrummel.

Sonder daadwerklike ingryping sal die metro nie net finansieel ineenstort nie, maar ook sy grondwetlike plig versuim om ’n leefbare omgewing vir sy mense te verseker.

Die VF Plus sal nie toekyk hoe die Tshwane-metro finansieel oor die afgrond gaan nie en sal aanhou druk uitoefen tot verantwoordelikheid en ordentlike dienslewering weer die norm is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.