Die VF Plus het vandag tydens ’n raadsvergadering sterk beswaar aangeteken teen die Ekurhuleni-metro se besluit om openbare ruimtes vanaf 24 tot 27 Desember vir feeste en geleenthede oop te stel met die doel om die metro se inkomste aan te vul.
Hoewel die metro dit as ’n ekonomiese geleentheid voorhou, is die werklikheid dat sulke byeenkomste dikwels gepaard gaan met chaos, rommelstrooiing, verhoogde misdaad, bakleiery en die roekelose gebruik van vuurwerk. Dit is alles faktore wat die veiligheid van inwoners bedreig en die vrede in woonbuurte versteur.
Die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), wat reeds onder druk verkeer, sal nou verplig wees om verhoogde sigbaarheid en orde te handhaaf tydens hierdie feeste.
Met beperkte hulpbronne is dit onrealisties om te verwag dat die EMPD beide die feeste en die algemene toename in misdaad gedurende die feestyd sal kan hanteer.
Die VF Plus beskou hierdie besluit as roekeloos en kortsigtig.
Dit plaas korttermyn finansiële gewin bo die langtermyn-welsyn van inwoners en ignoreer die sosiale- en omgewingsimpak wat onvermydelik gaan volg.
Die party sal voortgaan om die metro aanspreeklik te hou vir die gevolge van hierdie besluit en dring aan op ’n benadering wat die veiligheid, gesondheid en welsyn van gemeenskappe eerste stel.


