Die VF Plus in die Tshwane-metro het tydens ‘n onlangse raadsvergadering teen ‘n voorstel van die ANC/EFF/ActionSA-burgemeesterskomitee gestem oor ’n verslag rakende die goedkeuring van die Streekontwikkelingsplan vir Ruimtelike Beplanning vir 2025.
Die VF Plus het daarop gewys dat ernstige statutêre tekortkominge ‘n risiko inhou dat landswette oortree kan werk.
Agtien geldige besware deur die publiek is verontagsaam, met die gevolg dat die volgende wetgewing waarskynlik oortree word:
• Die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur weens die afwesigheid van bevestigde omgewingsimpakstudies vir ontwikkelings in ekologies sensitiewe gebiede.
• Die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur weens die verwerping van insette oor ruimtelike geregtigheid en volhoubaarheid.
• Die Wet op Munisipale Stelsels weens die gebrek aan infrastruktuurverifikasie en implementeringstydlyne vir hoëdigtheidontwikkeling.
• Die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne weens die uitsluiting van erfenisvoorleggings in gebiede waar dit vereis word.
Die VF Plus kan nie ’n raamwerk onderskryf wat onwettige ontwikkeling toelaat, infrastruktuurbeperkings ignoreer en kulturele erfenis uitwis weens prosedurele versuim nie.
Die streekontwikkelingsplan moet nie net strategies wees nie, maar ook wettig, inklusief en uitvoerbaar.
Die VF Plus het aanbeveel dat alle implementering van die streekontwikkelingsplan eers mag voortgaan nadat volledige nakoming met alle toepaslike landswette bevestig is. Om hierdie beginsel te handhaaf, stel die VF Plus die volgende voor:
• Alle geïgnoreerde openbare insette moet formeel verwys word na die toepaslike departemente vir hersiening en verslagdoening.
• Die implementering van die plan moet onderhewig wees aan omgewingsimpakstudies, infrastruktuurbevestiging en erfenisbeoordelings.
• Die goedkeuring van aangeduide ontwikkelingsgebiede mag slegs voorlopig geskied, hangende statutêre klaring.
• ’n Implementeringsaanhangsel moet binne 60 dae aan die raad voorgelê word met duidelike tydlyne, moniteringsmeganismes en gemeenskapsinsette.
Dit blyk weereens dat die koalisie van die ANC, EFF en ActionSA-hom nie steur aan wetgewing nie en nogmaals ‘n wettelose regering voortsit ten koste van openbare deelname, regsgehoorsaamheid en infrastruktuurvermoë.


