Die voorgestelde 2026/27-konsepbegroting van die Tshwane-metro gaan inwoners se maandelikse huishoudelike rekening met beraamde bedrae van tussen R300 en R450 opjaag.
Hierdie skerp verhogings is Donderdag tydens die voorlegging van die mediumtermyn-inkomste- en uitgaweraamwerk (MTIUR) in die raad aangekondig.
Die voorgestelde verhogings is as volg:
• Water: +10,0%
• Elektrisiteit: +8,8%
• Sanitasie: +5,0%
• Eiendomsbelasting: +5,0%
• Vullisverwydering: +4,1%
Terwyl inwoners gevra word om tariefverhogings te absorbeer wat in sommige gevalle dubbel tot drievoudig die inflasiekoers is, geniet munisipale werknemers ruim aanpassings.
Benewens ‘n salarisverhoging van 4,75%, word ‘n terugwerkende aanpassing van 3,5% vir die 2021/2022-jaar ook nou toegepas. Dit is onaanvaarbaar dat huishoudings gestraf word met verhogings wat hul eie inkomste-groei ver oorskry om die metro se salarisrekening te finansier.
Die VF Plus waarsku dat die metro se sogenaamde surplus van R1,4 miljard bloot ‘n boekhou-illusie is.
Die begroting berus op ‘n onrealistiese inkomste-invorderingskoers van 90%, ten spyte daarvan dat die ouditeur-generaal (OG) herhaaldelik bevestig het dat Tshwane se werklike invordering onder 85% is.
Hierdie doelbewuste ooroptimisme beteken dat die voorspelde surplus waarskynlik sal omdraai in ‘n werklike tekort van tussen R700 miljoen en R1 miljard.
Dit is dus slegs op papier ‘n “befondsde” begroting, wat die metro se finansiële volhoubaarheid en noodsaaklike dienslewering ernstig in gevaar stel.
Inwoners verdien ‘n geloofwaardige begroting wat op ekonomiese realiteite berus, nie op projeksies wat die las bloot na huishoudings afskuif vir minder waarde vir geld nie.
Die konsepbegroting word nou vir openbare deelname uitgereik.
Die VF Plus doen ‘n dringende beroep op inwoners om hierdie geleentheid te gebruik en na vore te tree om hul insette te lewer.
Daar kan nie toegelaat word dat onrealistiese beplanning die inwoners van die Tshwane-metro verder finansieel ruïneer nie.


