Die Tshwane-metro se 2026/27-geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) is niks meer as ’n herhaling van vorige planne nie en weerspieël drie jaar van strategiese verval en institusionele verlamming.
Die verslag is vandag in die raad ter tafel gelê.
Die VF Plus se ontleding toon dat die metro belangrike infrastruktuurbehoeftes ignoreer en erken dat nuwe projekte nie meer befonds word nie.
Terwyl die metro droom van ’n “slim stad teen 2055”, wys die werklikheid dat kragonderbrekings gaan vererger.
Die meeste kragdepots beskik oor minder as 5% van die personeel met die nodige magtiging om aan hoogspanningsdrade te werk. Omdat die metro weier om eksterne kundigheid te benut, sit inwoners dikwels dae lank sonder krag.
Verder is die administratiewe stelsels só gebrekkig dat die amptelike dokumente selfs na vergaderings in 2028 verwys – ’n duidelike teken dat die plan bloot oorgeskryf is sonder basiese kontrole.
Die voorsieningsketting vir onderdele en arbeid het ook ineengestort, wat die metro se vermoë om basiese instandhouding te doen, ernstig benadeel.
Die VF Plus is van mening dat die huidige koalisie sy grondwetlike mandaat verbeur het.
’n Metro kan nie “slim” wil wees as die ligte tans nie eens kan brand nie en basiese instandhouding nie gedoen word nie. Tshwane word nie meer bestuur nie – dit stuur af op ’n totale ineenstorting.
Met ’n operasionele risikogradering van 94% (kritiek), is dit duidelik dat die metro nie volhoubaar funksioneer nie.
Die inwoners van Tshwane verdien ’n regering wat sy wetlike pligte nakom, tegniese bevoegdheid het en die ekonomie kan laat groei. Dit is tyd vir verandering.


