Die VF Plus het ernstige bedenking oor die Tshwane-metro se vermoë om volhoubare dienste aan informele nedersettings in die metro te lewer.
In haar stadsrede op 10 April het die burgemeester, Nasiphi Moya, aangekondig dat die verskaffing van krag aan informele nedersettings binnekort sal plaasvind. Sy het ’n ook nuwe beleid vir die bestuur van informele nedersettings bekend gemaak, wat daarop gemik is om alternatiewe kragbronne, soos sonkrag te implementeer, maar die proses om openbare deelname-kommentaar te verwerk is nog nie voltooi nie.
Volgens die metro se eie data, ontvang slegs 50% van inwoners formele diensterekeninge, terwyl die meerderheid informele nedersettings toegang het tot water en krag —dikwels sonder betaling.
Dit blyk verder uit die metro se geïntegreerde ontwikkelingsplan vir 2025/26 dat Tshwane 502 informele nedersettings het met ʼn bevolking wat aansienlik gegroei het ná die Covid-19-pandemie. Die koste om dienste aan hierdie nedersettings te verskaf, word geskat op R1,5 miljard jaarliks.
Dit plaas ’n onhoudbare las op die metro se reeds sukkelende begroting van R54 miljard vir die 2025/26-finansiële jaar.
Om dienste aan informele nedersettings te lewer sonder om enige betaling daarvoor te ontvang, is onvolhoubaar.
Die VF Plus dring aan op verantwoordbaarheid en ’n realistiese benadering.
Sonder betalingstelsels, formele beplanning, en provinsiale/nasionale steun om hierdie nedersettings volhoubaar te bedien, sal dit net die finansiële las op getroue belastingbetalers vererger. Dit kan lei tot ʼn algehele ineenstorting van dienslewering.


