Die VF Plus het kennis geneem van ‘n regsmening wat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) bekom het met ‘n aanbeveling dat strafregtelike vervolging ingestel word teen die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, Qedani Mahlangu.
Vervolging gaan ook ingestel word teen die voormalige direkteur van geestesgesondheid, Makgabo Manamela. In beide gevalle is die vervolging slegs rakende die sterftes van twee slagoffers en nie al die 144 nie.
Die VF Plus is van mening dat geregtigheid nie hierdeur sal geskied nie en dat Mahlangu en Manamela tereg moet staan en verantwoordelik gehou moet word vir al die slagoffers wat gesterf het.
Dit was direk te wyte aan die optrede van Mahlangu en Manamela dat sowat 1 700 pasiënte in 2015 verskuif is vanuit ‘n wettige gerief na nieregeringsorganisasies in die provinsie.
Hierdie geriewe was hoegenaamd nie ingerig of gerat vir die pasiënte se versorging nie en was ook ongeregistreer. Dit het gelei tot die menseslagting wat plaasgevind het weens wanvoeding en verwaarlosing.
Danksy volgehoue druk van die VF Plus en ander partye in daardie stadium het ‘n lang proses begin van verskeie verhore, ondersoeke en arbitrasies. Selfs die gesondheidsombudsman het aangedui dat die Gautengse regering se optrede roekeloos was en menseregteskendings tot gevolg gehad het.
Tydens die arbitrasieproses is bevind dat die betrokke owerheid onwettig opgetree het.
Die VF Plus het in daardie tydstip ook druk toegepas dat Mahlangu teruggebring word na Suid-Afrika vanaf Londen in Engeland, om sodoende te verseker dat sy nie met haar optrede sou wegkom nie.
Die party het daarop aangedring dat sy van moord of strafbare manslag aangekla behoort te word en het in September 2019 in die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid weer die tragedie op die tafel geplaas.
Intussen het ‘n geregtelike doodsondersoek plaasgevind om te bepaal wat die wetlike oorsaak van die sterftes was. Die hooggeregshof in Pretoria het in Julie 2024 beslis dat nege sterftes toegeskryf kan word aan die nalatigheid van Mahlangu en Manamela.
Tydens hierdie verhoor is getuienis aangehoor van verhongering, ontwatering en bedsere wat die pasiënte opgedoen het. Van hulle het volgens getuienis papier en plastiek geëet om nie van die honger te sterf nie.
Die regter het beslis dat van die pasiënte gesterf het weens onvoldoende sorg.
Dit sal ‘n skending van geregtigheid in die hoogste graad wees indien Mahlangu en Manamela nie verantwoordelik gehou word vir al 144 sterftes nie, maar slegs vir sekeres.
Die feite is op die tafel en die besluite wat deur Mahlangu en Manamela geneem is om die pasiënte te verskuif, het hul dood veroorsaak en hulle moet daarvoor gestraf word sodat die naasbestaandes van die slagoffers berusting kan kry.
Die VF Plus dring daarop aan dat die NVG weer na die regter se beslissing kyk. Al die getuienis in die saak asook die verskillende wetlike prosesse wat plaasgevind het moet in ag geneem word voordat daar besluit word om met die regsmening se aanbeveling voort te gaan.


