Die VF Plus steun die Tshwane-metro se verskerpte aanslag op persone wat onder die invloed van alkohol bestuur, veral met die feesseisoen wat op hande is.
Die metro se departement vir gemeenskapsveiligheid het die afgelope week sy eerste mobiele alkoholtoetsbus op die R80 naby Rosslyn bekend gestel. Dit word eersdaags ontplooi.
Die bus is toegerus met ʼn gevorderde rekenaarstelsel en toetsapparaat om vinnige en akkurate alkoholtoetse te doen.
Die veeldoelige bus is ook ingerig om as ʼn aanklagkantoor te dien.
Tydens die toetsing word ʼn video geneem om die uitslag, hetsy negatief of positief, op kamera vas te lê.
Bestuurders wat positief toets word dadelik in hegtenis geneem en na die naaste polisieselle geneem.
Oortreders kan ʼn minimum boete van R2 000 of ses jaar tronkstraf opgelê word.
Benewens om vir alkohol te toets, kan die rekenaarstelsel ook uitstaande boetes aandui, asook of ʼn voertuig gesteel is of onregmatig gebruik word.
Die daarstelling van die mobiele alkoholbewysbus sal as afskrikmiddel dien om mense te ontmoedig om onder die invloed van alkohol te bestuur.
Die Tshwane-metro sal nie langer toesien hoe dronkbestuurders die lewe van onskuldige mense in gevaar stel nie.
Die VF Plus moedig partytjiegangers aan om eerder alternatiewe vervoer te gebruik indien hulle beplan om alkohol te gebruik.