Die Tshwane-metro se nalatige houding jeens gereelde onderhoud aan waterinfrastruktuur is die oorsaak dat miljoene liter water verlore gegaan het en die Belgiese kollege iTversity in Heatherdale oor die naweek oorstroom het.
ʼn Stukkende klep by die Mainstraat-reservoir was die oorsaak vir die oorstroming by die kollege.
Dit is onaanvaarbaar dat die metro se departement van water nie reeds op 17 Junie die waterlekkasie by die Mainstraat-reservoir herstel het toe dit opgemerk is nie.
Die VF Plus is van mening dat die Tshwane-metro verantwoordelikheid moet neem vir die voorval en vir gestremde studente nadat die personeel meubels uit koshuis- en klaskamers moes ontruim weens modder en water wat groot gedeeltes van die kampus binnegestroom het.
Meer as 20 werkers moes inderhaas dreineringslote grawe en sandsakke pak om die water weg te lei.
ʼn VF Plus-raadslid was ook gedurende die oorstroming by die kollege teenwoordig om druk op die stadsraad uit te oefen om dadelik in te gryp en die waterklep te herstel.
Dit is egter nie die enigste reservoir in die metro wat probleme ondervind nie. By die reservoir in Montana is daar ook ʼn lekkende waterpyp wat veroorsaak dat water in ʼn stormwaterdrein afloop.
Die VF Plus het ʼn brief aan die munisipale bestuurder, Johann Mettler, geskryf waarin geëis word dat alle reservoirs nagegaan word en probleme dadelik aangespreek word om verdere moontlike oorstromings te vermy.
Belastingbetalers word nou gestraf vir die watervermorsing terwyl daar ʼn vlak1-waterbeperking in Tshwane geld.