Die rooskleurige prentjie wat die burgemeester van Mogale City, Lucy Sele, tydens sy dorpsrede geskets het, is ver verwyder van die realiteit van ‘n gebied sonder behoorlike infrastruktuur en ‘n middedorp waar hawelose dwelmverslaafdes daagliks die sypaadjies vol lê.
Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit bedien dorpe soos Krugersdorp, Muldersdrift, Magaliesburg en Tarlton.
Volgens die burgemeester is die munisipaliteit van plan om die Chamdor-industriële gebied weer te laat herleef, maar gegewe die huidige omstandighede glo die VF Plus die plan is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.
Die ANC-regering kon nie eers by sy plan hou om die Bob van Reenen-stadion te herstel of die Krugersdorp-wildtuin van ondergang te red nie.
Die VF Plus beveel aan dat die burgemeester eerder fokus op die Human- en Percy Stewart-rioolwerke wat al jare buite werking is. Riool loop vrylik in spruite en riviere en vernietig die ekosisteem wat daartoe lei dat boere nie hul landerye uit riviere kan besproei nie.
Ondergrondse water is reeds besmet. Die party het reeds ʼn saak by die menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak waarna die munisipaliteit gewaarsku is om dadelik die rioolsuiweringswerke te herstel. Dit het nie gebeur nie.
Die VF Plus plaas daagliks druk op die munisipaliteit om infrastruktuur soos slaggate, lamppale en water-en kragprobleme te herstel.
Die party sal nie ophou om druk op die munisipaliteit te plaas om gehoor te gee aan infrastruktuurprobleme in die gebied nie.