Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom inhegtenisname van oud-Transnethoës

Die VF Plus verwelkom die inhegtenisname van vier voormalige Transnet-bestuurders

Die persone het hulle gister vrywillig by die polisie aangemeld en het daarna in die Palm Ridge-gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn op aanklagtes van bedrog, korrupsie, die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur asook die oortreding van die Maatskappywet.

Een van die beskuldigdes in die saak, Brian Molefe, voormalige hoof uitvoerende beampte van Transnet en tans LP vir die MKP in die parlement, word verbind met beweerde korrupte tenders rakende die aankoop van lokomotiewe rondom 2014.

Die Chinese maatskappy CSR is aangewys om 95 lokomotiewe te verskaf teen R3,2 miljard, maar dit het eindelik meer as R3,4 miljard gekos. In twee verdere kontrakte is 100 lokomotiewe teen R3,8 miljard gekoop (wat eindelik meer as R4,8 miljard gekos het) en 1 064 lokomotiewe van R38,1 miljard wat eindelik R54 miljard gekos het.

Die VF Plus is verheug dat getuienis wat voor die Zondo-kommissie oor staatskaping gelewer is, eindelik begin vrugte afwerp.

Korrupsie het veroorsaak dat Transnet tans in die finansiële gemors is waarin hy verkeer en dit is tyd dat daar geen genade getoon word aan korrupte persone wat staatsentiteite gestroop het en tans nog stroop van hul fondse nie.

Dit is immers die belastingbetaler wat hierdeur besteel en beroof word en die persone daarvoor verantwoordelik moet die gevolge begin dra.

Daar moet ‘n duidelike boodskap aan korrupte amptenare gestuur word dat jy in die tronk sal beland as jy staatsfondse steel en dit is hoog tyd dat hierdie persone verantwoording begin doen vir hul onwettige optrede.

Die VF Plus het in 2017 beswaar aangeteken teen Molefe se ontplooiing as LP oor sy beweerde bande met die Guptas, maar hy het teen Mei 2017 as LP bedank. Die VF Plus handhaaf steeds daardie standpunt en Molefe moet as MKP-LP verwyder word.

Transnet het onlangs weer ‘n reddingsboei van R51 miljard van die regering ontvang ten spyte van ‘n toedeling vanaf die departement van vervoer van R105 Miljard vir die 2025/26-boekjaar.

Dit het die entiteit se afgradering by Moody’s gekeer. Transnet het in daardie stadium nie genoeg kapitaal gehad om sy bedrywighede te finansier nie.

Die VF Plus is van mening dat hierdie reddingsboei nie Transnet se probleme gaan oplos nie en dat die entiteit wel weer sonder bedryfsfondse sal sit. Transnet het in 2023 ook ‘n reddingsboei van R47 miljard ontvang wat reeds opgebruik is.

Die algehele verval van Transnet kon voorkom gewees het indien beskuldigdes soos Molefe, Anoj Singh, Siyabonga Gama en Thamsanqa Jiyane nie hulself probeer verryk het nie.

Daar is nie meer plek vir korruptes in Suid-Afrika nie en sulke persone moet die straf kry wat hul toekom en daar moet ferm teen hulle opgetree word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.