Dit is absoluut onaanvaarbaar dat die Tshwane-metro voortgaan om inwoners te faktureer vir ’n reinigingsheffing wat die hooggeregshof onwettig verklaar het.
Ten spyte van ’n uitspraak op 31 Julie 2025 waarin die hof die heffing tersyde gestel het, het die metro op 1 September rekeninge uitgestuur waarin inwoners steeds R194 per maand vir die betrokke heffing moet betaal.
Die heffing, wat oorspronklik ingestel is om vullisterreine te onderhou en strate skoon te maak, is deur die hof as onregmatig en ongrondwetlik bevind. Die metro is boonop aanspreeklik gehou vir die regskoste van hul onsuksesvolle appèlaansoek teen AfriForum se saak.
Die metro se optrede is ’n blatante minagting van die hof en is ’n verdere bewys van wanbestuur en ’n gebrek aan respek teenoor belastingbetalers.
Die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, en die stadsbestuurder, Johann Mettler, wat reeds in ’n vorige saak aan minagting van die hof skuldig bevind is, toon geen bereidwilligheid om aan die reg te gehoor te gee nie.
Die VF Plus nooi inwoners wat rekeninge ontvang het waarop die onwettige heffing verskyn, om met hul plaaslike VF Plus-raadslid in verbinding te tree.
Die party het reeds ’n ondersoek gedoen om vas te stel of die heffing wydverspreid gefaktureer is, en sal regsadvies inwin om die metro te dwing om die rekeninge reg te stel.


