Die VF Plus eis antwoorde vanaf Stad Kaapstad oor twee beplande ontwikkelings naby die Koeberg-kernkragstasie in die Wes-Kaap wat die veiligheid en welstand van inwoners in gevaar kan stel en kommerwekkend is.
Die Nasionale Kernreguleerder (NKR) het in Junie 2024 die lisensie vir Koeberg se Eenheid 1 tot 2044 verleng, en die goedkeuring vir Eenheid 2 word teen November 2025 verwag. Hierdie verlenging beklemtoon die belangrikheid van streng veiligheidsmaatreëls in die omliggende gebied, veral binne die Dringende Beskermende Aksiebeplanningsone (UPZ).
In die lig hiervan is die eerste projek, ’n voorgestelde gevaarlike afvalstortingsterrein deur Wesco Management naby Melkbosstrand, kommerwekkend weens sy nabyheid aan Koeberg gemeet aan die risiko’s wat dit mag inhou vir die kernveiligheid van die gebied, soos vereis deur NKR-riglyne.
Die tweede projek behels die ontwikkeling van Erf 1117 in Blaauwberg, wat daarop gemik is om 30 000 mense te huisves. Hierdie hoëdigtheid-behuising, met ’n digtheid vyf tot ses keer hoër as omliggende gebiede, is in stryd met die NKR se riglyne vir laedigtheid-ontwikkeling in die UPZ en die verhoogde risiko vir inwoners in die geval van ’n kernongeluk waar spoedige ontruiming kardinaal van belang is kan nie geïgnoreer word nie.
Die VF Plus is ook verontrus oor die Stad Kaapstad se oënskynlike gebrek aan deursigtigheid in die verband. Die Stad het nie alle relevante studies en inligting met die publiek gedeel nie, en openbare deelname in die besluitnemingsproses bly ontoereikend.
Hierdie optredes weerspreek die beginsels van die Nasionale Omgewingsbestuurswet (NEMA) en die Stad se eie ontwikkelingsbeleid wat inwonersveiligheid en deursigtigheid prioritiseer.
Die VF Plus dring aan op ʼn onmiddellike moratorium op die Wesco- en Erf 1117-ontwikkeling totdat omvattende risikostudies en openbare konsultasies voltooi is.
Daar moet ook ʼn deeglike ondersoek na die stad se nakoming van die NKR-riglyne en die NEMA gedoen word en alle relevante omgewings- en veiligheidsverslae moet geopenbaar word.
Die VF Plus sal hierdie saak noukeurig monitor en verdere stappe neem, insluitend om die aangeleentheid by die NKR en ander relevante owerhede aan te meld, indien nodig.
Die veiligheid van inwoners moet altyd eerste kom.


