Die DA moet onmiddellik optree en die gepaste stappe neem teen ‘n senior amptenaar van die Stellenbosch-munisipaliteit wat in ‘n uitgelekte video klaarblyklik gewraakte en rassistiese stellings maak teen wit werknemers en veral wit mans.
Luidens mediaberigte is die persoon in die video mnr. Alexander Kannemeyer, menslike hulpbronbestuurder van die munisipaliteit, wat in gesprek is met twee ongeïdentifiseerde persone.
Luidens ‘n berig in die Stellenbosch Monitor (Leaked video has municipal HR manager in hot water: 2 September 2025) is die strekking van Kannemeyer se uitlatings dat daar van wit werknemers ontslae geraak moet word om transformasieteikens te bereik.
In ‘n skokkende stelling sê hy selfs dat “die lewe moeilik gemaak moet word” vir wit werkers om hulle te dwing om te bedank en sodoende uit te dryf.
Hy sê voorts die werkswyse om geskoolde en opgeleide persone aan te stel, ly gewoonlik daartoe dat wit persone – en veral wit mans – eerste in aanmerking kom om aangestel te word en “dit moet tot ‘n einde kom”. Ook dat daar reeds te veel wit mans in senior bestuursposte is.
Volgens hom kan daar eerder “ongeskoolde” persone van kleur aangestel word om transformasie te dryf. Die res van sy uitlatings borduur op dieselfde trant voort.
Sulke uitlatings is nie net onwettig en diskriminerend nie, maar ondermyn dienslewering en professionele standaarde in die munisipaliteit.
Die VF Plus veroordeel hierdie siening en uitlatings ten sterkste. Dit is skokkend dat ‘n senior amptenaar bereid is om dienslewering op Stellenbosch te laat verval net om transformasieteikens na te jaag.
Die DA, as die regerende party op Stellenbosch, moet duidelikheid gee of hierdie siening met sy beleid ooreenstem. Indien nie, verwag die VF Plus ’n ondubbelsinnige verwerping van Kannemeyer se uitlatings en ’n openbare verbintenis tot meritokratiese beginsels.
Suid-Afrika sit in sy huidige haglike situasie weens die gevolge van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en alles wat daaruit voortspruit soos kaderontplooiing en grootskaalse korrupsie.
Munisipaliteite, staatsinstellings en die staat self het grootliks om hierdie redes in duie gestort.
Die VF Plus dring aan op die volgende:
• Die onmiddellike skorsing van mnr. Kannemeyer hangende ’n deeglike en deursigtige ondersoek na sy uitlatings.
• ’n Openbare verklaring van die DA waarin sy standpunt oor RA en billike aanstellingspraktyke bevestig word.
• Maatreëls om te verseker dat munisipale aanstellings op kwalifikasies en verdienste gegrond is, nie op rassistiese of diskriminerende gronde nie.
Die VF Plus sal hierdie saak noukeurig monitor en sal dit onder die aandag van die menseregtekommissie (MRK) bring en sal ook verdere stappe neem soos nodig.


