Die VF Plus in die Tshwane-metroraad het sy steun gegee vir ʼn voorstel dat amptenare huishoudings met voorafbetaalde water- en kragmeters besoek om vas te stel of daarmee gepeuter word.
Luidens ʼn verslag wat voor die raad gedien het, ly die metro enorme finansiële verliese weens inwoners wat voorafbetaalde meters oorbrug en meer elektrisiteit en water verbruik as wat hulle aankoop of gratis van die metro ontvang.
Inwoners wat as behoeftiges geregistreer is by die metro en hulself hieraan skuldig maak, sal ook nie langer gratis water en krag van die metro ontvang nie en gederegistreer word.
Geregistreerde behoeftiges ontvang elke maand 100kva-eenhede elektrisiteit en 12kl water gratis.
Die VF Plus het daarop aangedring dat amptenare dadelik begin om die skuldiges op te spoor en die nodige stappe te neem.
Boetes van tot en met R200 000 vir individue en R10 miljoen vir ondernemings kan opgelê word.
Die VF Plus as koalisievennoot is toegewyd om die metro uit sy benarde finansiële posisie te help en daarom kan daar nie toegelaat word dat inwoners dienste ontvang waarvoor hulle nie betaal nie.