Die VF Plus het tydens ʼn raadsvergadering van die Tshwane-metro versoek dat meer gedoen moet word om beleggers na die metro te lok.
Die party het sy kommer oor die prestasiedoelwitte van die Tshwane Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap (Teda) uitgespreek weens die afname van beleggers in die metro.
Die Teda speel ʼn belangrike rol in die bevordering van ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling in die metro met die spesifieke doel om beleggers te lok.
ʼn Verhouding word met hulle gevestig, die metro word bemark vir sy beleggingsmoontlikhede en bystand word verleen in die verkryging van grondgebruiksregte vir ontwikkelingsprojekte.
Ongelukkig het die Teda tot op hede weinig impak gemaak om nuwe beleggings te lok.
Daar is duidelike tekortkominge in die proses om met beleggers te skakel, die stad te bemark en die nodige ondersteuning te bied.
Die VF Plus het versoek dat die agentskap opnuut fokus op die ontwikkeling van doeltreffende strategieë om nuwe beleggers te lok en dit vir bestaande beleggers lonend maak om hul werksaamhede uit te brei.
Indien die metro doelgerig bemark word as ʼn unieke beleggingsbestemming, sal dit ʼn broodnodige ekonomiese hupstoot beteken met gepaardgaande werkskepping.
Teda het die potensiaal om ʼn positiewe impak in die verband te maak en die VF Plus is bereid om met die agentskap saam te werk ten einde sy doelwitte te bereik.