Dit bly duidelik uit die nuut-goedgekeurde 2026/27-begroting van die Tshwane-metro dat dienslewering weer aan die agterspeen gaan suig sodra die geld opraak.
Tydens Donderdag se begrotingsdebat het die VF Plus beklemtoon dat die begroting nie ten volle befonds is nie, ondanks bewerings van die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Eugene Modise, dat dit wel die geval is.
Die begroting maak staat op hoogs optimistiese inkomsteprojeksies wat nie met die werklikheid strook nie.
Personeelkoste sal styg tot meer as R16,26 miljard ná ’n algemene salarisverhoging van 4,75% wat aansienlik hoër is as inflasie. Dit verteenwoordig byna 29,2% van die totale bedryfsbegroting van R55,7 miljard, met ’n bykomende historiese las van R1,08 miljard vir agterstallige 2021-salarisverhogings.
Modise grond sy verwagte inkomste op ’n onrealistiese invorderingskoers van 90%, terwyl die werklike koers tans onder 83% is.
Met die goedgekeurde tariefverhogings wat op 1 Julie in werking tree, kan hierdie koers verder daal. Die verskil skep ’n werklike kontanttekort van meer as R3,38 miljard.
Wanneer die tekort realiseer, sal wetlik beskermde salarisse eerste betaal word, terwyl basiese dienslewering ineenstort. Inwoners sal dus aansienlik meer betaal, net om minder dienste te ontvang met slaggate wat nie herstel word nie en waterlekkasies wat langer onopgelos bly.
’n Begroting gegrond op foutiewe projeksies en ’n opgeblase salarisrekening sal Tshwane nie kan regruk nie.
Die VF Plus staan vir ’n radikale terugkeer na basiese beginsels soos skoon administrasie, die vermindering van duur eksterne kontrakteurs, die uitwissing van korrupte voorsieningskettings en ’n onwrikbare fokus op betroubare dienslewering.
Kiesers het op 4 November 2026 die geleentheid om sake reg te stel deur vir die VF Plus te stem.


