Die VF Plus het dadelik ingegryp toe die lotgeval van ʼn Transnet-pensioenaris, wat al twee dae in ʼn stoel by die ongevalle-afdeling van die Yusuf Dadoo-hospitaal om behandeling wag, onder sy aandag gebring is.
Mnr. Piet Olivier (70) se vrou, Margaret, het hom op 17 Augustus na die Yusuf Dadoo-hospitaal in Krugersdorp geneem. Hy het hart- en longprobleme asook kanker.
Mev. Olivier het die VF Plus-raadslid in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit, Lourens Gouws, genader omdat sy bekommerd was oor haar man wat nog geen behandeling ontvang het nie.
Die VF Plus het die waarnemende hospitaalbestuurder, Tsebo Litheko, besoek wat aangedui het dat die hospitaal ʼn tekort aan personeel het. Die situasie vererger ook wanneer besoeke aan die ongevalle-afdeling toeneem.
Mnr. Olivier is kort daarna in ʼn saal opgeneem vir die nodige behandeling.
Die VF Plus is bewus daarvan dat staatshospitale oor die algemeen worstel met personeeluitdagings, maar sal nie toelaat dat ernstige siek pasiënte benadeel word nie.