Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Toerisme vereis veel van regering om te slaag; kry min

(Parlementêre begrotingsdebat: Toerisme)

Toerisme is een van die sektore wat die meeste van die regering vra om suksesvol te wees: Noue interaksie word vereis van departemente soos samewerkende regering, internasionale betrekkinge, polisie, handel en nywerheid, gesondheid en ander. Toerisme se belange strek oor grense van kultuur, geloof, sport, kuns en geskiedenis.

Die uitwerking van die Covind-19-pandemie is ‘n sprekende voorbeeld van toerisme se interafhanklikheid van faktore buite sy onmiddellike grense: In 2019 het 10,2 miljoen toeriste Suid-Afrika besoek. In 2020 slegs 2,8 miljoen, ‘n afname van 72,6%. In randwaarde is dit ‘n verlies van R94 miljard teenoor die R130 miljard wat die vorige jaar gegenereer is.

Kundiges voorsien dat werkloosheid binnekort tot 50% kan toeneem en dat ‘n verdere 4 miljoen mense hul werk kan verloor. ‘n Derde van alle sake-ondernemings kan hul deure sluit. Die Verenigde Nasies (VN) voorsien dat tot 54% van alle huishoudings hul inkomste kan verloor en in armoede gedompel kan word.

‘n Verslag van die Wêreld Reis en Toerismeraad (WRTR), lui dat toerisme voor die pandemie bygedra het tot 9,2% van die land se arbeidsmark wat 6,9% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig. In 2019 het dit afgeneem tot slegs 3,7%.

Die regering erken dat inperkings se uitwerking op toerisme ingrypend was en dat die mark geherstruktureer moet word om binnelandse toerisme te bevorder en bekostigbaar te maak om die afhanklikheid aan internasionale toerisme te verminder.

Die VF Plus stem saam met die konsep, maar nie die uitvoering daarvan nie. Die departement praat met ander lande oor die aangeleentheid terwyl die antwoorde plaaslik gevind moet word.

Gesprekke moet gevoer word met ander departemente en die onderskeie parlementêre komitees. Die land se paaie, algemene dienste en plaaslike ekonomieë moet reggeruk word om binnelandse toerisme te bevorder.

Die departement van gesondheid moet die inentingsprogram versnel. Kuns en kultuur moet toesien dat erfenisskatte, kunste en sport die nodige aandag ontvang om mense te lok en die polisie moet misdaad aan bande lê.

In ag genome die krisis waarin die totale sektor verkeer, is dit onaanvaarbaar dat swart bemagtiging die regering se kriterium is vir hulpverlening om groei te bewerkstellig. Dit is niks anders nie as rassisme. Dit benadeel almal wat van toerisme afhanklik is vir ‘n inkomste; swart en wit.

Om sonder staatshulp te oorleef, is innovering en entrepreneurskap nodig. Dié sektor het ‘n dringende behoefte aan nuwe toetreders en innovering. Die regering maak selfs dit egter haas onmoontlik met onnodige rompslomp en swart bemagtigingsteikens.

Die ANC moet besef dat mense van alle rasse in die sektor geen belang het by ANC-propaganda en ideologie nie. Hulle wil net ‘n inkomste verdien en vir hul gesinne sorg. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) moet afgeskaf word. Dit is vernietigend vir die land se ekonomie en almal in die land se voortbestaan.

Na Covid-19 mag daar nie meer gepraat word van SEB in toerisme nie. Die sektor is byna uitgewis en transformasie het reeds plaasgevind.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.