(Begrotingsposdebat in parlement: Binnelandse sake)
Gemeet aan die Suid-Afrikaanse publiek se talle klagtes oor die departement van binnelandse sake se dienslewering, kan met reg gevra word of die departement nog enigsins voldoen aan sy grondwetlike mandaat as bewaarder, beskermer en verifieerder van die identiteit en status van burgers en ander persone wat in die land woonagtig is.
Hierdie dinge is allerbelangrik om dit vir die publiek moontlik te maak om hul regte en toegang tot voordele en geleenthede in die openbare en private gebied te verwesenlik.
Die antwoord is nee, omdat die departement en veral sy kantore regoor die land nie meer toegerus is om sy mandaat uit te voer nie en grootliks wanfunksioneel is.
Die vermoë van die departement was al voor die Covid-19-pandemie grootliks verswak en die Covid-19-inperkings het dit tot op die rand van ineenstorting gebring.
Die gepaardgaande skade wat swak regering, staatskaping en korrupsie aan die departement se vermoë aangerig het om die bepalings van die Grondwet aangaande sy mandaat gestand te doen, is onberekenbaar.
Alhoewel die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) se operasionele begroting van R1.3 miljard R169.5 miljoen of 15,5% meer is as in die vorige finansiële jaar, kan die OVK slegs een registrasienaweek en nie die gebruiklike twee aanbied in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing op 27 Oktober vanjaar nie.
Suid-Afrika se poreuse grense bly ‘n onopgeloste probleem met ‘n groot aantal mense wat sonder beheer vanuit veral Zimbabwe en Mosambiek die land binnestroom.
Die oorgrens gesmokkel van vee, sigarette en dwelms vind ‘n geruime tyd reeds oop en bloot plaas by Pella Mond in die Noord-Kaap.
Op uitnodiging van Namibiese boere, was die VF Plus verlede week self in Namibië op die plek waar vee en selfs ‘n trop perde deur die Oranjerivier gejaag word terwyl die departement bewus is daarvan.
Die VF Plus bedank senior amptenare wat wel tot nou toe gehelp en bygestaan het om krisisse rondom veral paspoorte en grensbeheer te behandel.
Die departement sal onder hierdie buitengewone omstandighede buitengewone maatreëls moet tref om aan sy grondwetlike mandaat te voldoen. Hierdie maatreëls ontbreek nog.