fbpx
Vryheidsfront Plus

Departement laat vroue, jeugdiges en mense met gestremdhede in die saak

(Begrotingsposdebat in parlement: Vroue, jeug en persone met gestremdhede)

Die mislukkings van die departement wat moet omsien na vroue, die jeug en persone met gestremdhede, is welbekend. Dit sluit onder meer inisiatiewe rondom geslagsgeweld in. Geld wat binne die departement en sy entiteite vermors word, kan beter aangewend word in die belang van alle Suid-Afrikaners.

In werklikheid sou die departement geen bestaansreg gehad het indien die regering daarin kon slaag om ware gelykheid vir vroue, die jeug en mense met gestremdhede te bewerkstellig nie.

Wanneer die kollig geskyn word op die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (Nyda), is dit opvallend dat die agentskap gereeld in die nuus is, maar hoofsaaklik weens die verkeerde redes.

Suid-Afrika het reeds voor die Covid-19-pandemie die hoogste jeugwerkloosheidsyfer in die wêreld gehad. Hierdie syfer gaan volgens projeksies van Trading Economics na verwagting toeneem tot 62% teen die einde van die huidige kwartaal en tot 63% oor ‘n verdere twaalf maande.

Daar is geen woorde om die frustrasie met die skrikwekkende en tragiese omvang hiervan te beskryf nie.

Jeugwerkloosheid in Suid-Afrika is hoër as in lande wat geteister word deur burgeroorlog. Dit terwyl Suid-Afrika ‘n spesiale ministerie en ‘n Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap het om na die jeug en hul deelname aan die ekonomie om te sien.

Daar word in die proses ook groot bedrae geld bewillig om die jeug te bevorder, maar die meerderheid van die jeug word nie hieruit bevoordeel nie. Oor die mediumtermyn het die regering R762 miljoen toegeken om jong mense in die arbeidsmark betrokke te kry, R230 miljoen in die huidige aanwas om die jeug by gemeenskapprojekte te betrek en R207 miljoen aan programme om werk te verskaf.

Nyda is veronderstel om ondersteuningsdienste te verskaf om die jeug te help om direkte toegang te verkry tot die arbeidsmark en om hulle met die nodige vaardighede toe te rus. Die agentskap is ook veronderstel om die jeug finansieel en andersins te ondersteun, veral in ag genome dat meer as 40% van die jaarlikse begroting van Nyda aan personeelvergoeding bestee word.

Ten beste kan Nyda se bydrae tot jeugontwikkeling tot nou toe beskryf word as ‘n totale mislukking met die gebruiklike bewerings van ongerymdhede wat hulpverlening betref.

Die rede hiervoor is te vinde in die feit dat die Nyda in werklikheid niks anders is nie as ‘n verlengstuk van die ANC en ‘n vertakking van die regerende party se jeugliga waar wanbestuur en korrupsie aan die orde van die dag is. Net die kaders se kinders word bevoordeel.

Hierdie ongerymdhede en vermorsing kom reeds van so lank gelede as 2010 toe R100 miljoen bestee is aan ‘n sogenaamde jeugkonsert terwyl daar vir die meeste jong mense nie geld vir hoër onderwys is nie.

Die enigste waarin die jeugagentskap slaag, is die bevordering van oneerlikheid en misdadigheid. Die agentskap se voormalige voorsitter, Andile Lungisa, is ‘n goeie voorbeeld. Lungisa, later ook raadslid in Nelson Mandelabaai, het hom aan misdaad skuldig gemaak en is selfs uit die ANC geskors, wat nie maklik gebeur nie. Die einste Lungisa het die R100 miljoen-jeugfees georkestreer.

Die enigste oplossing vir die grootskaalse korrupsie, bedrog en wanbestuur van die Jeugontwikkelingsagentskap wat in werklikheid net ‘n ANC-kaderskool is, is om so gou doenlik daarvan ontslae te raak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.