(Begrotingsposdebat in parlement: Beplanning, monitering en evaluasie)
Die algemene mislukking van die ANC-regering en oënskynlike totale gebrek aan beplanning laat ernstige vrae ontstaan oor die funksionaliteit van die departement van beplanning, monitering en evaluasie.
Een van die departement se sleutelmandate is om seker te maak dat behoorlike navorsing en feite-gebaseerde studies gedoen word om die impak van wetswysigings te bepaal. Die huidige standaard van sulke sosio-ekonomiese impakstudies is uiters swak, soos die van die Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensname en die Wysigingswetsontwerp op die Vergoeding van Beroepsbeserings en -Siektes wat in 2015 gefinaliseer is, maar nou eers voor die parlement dien. Geen verandering van die laaste ses jaar wat ‘n impak op die wette mag hê word in ag geneem nie terwyl net die Vergoedingsfonds twee stelselveranderings ondergaan het in dié tydperk.
Dit is van die grootste belang om kundige studieverslae op te stel vir openbare deelname en wetgewende prosesse. Wat dit aanbetref, skiet hierdie verslae ver tekort wat die erkende internasionale standaard aanbetref.
Die studies gee die indruk van propaganda en vooroordeel sonder objektiewe data-analise of behoorlike finansiële impakbeoordeling. Die verslae hieroor is waarlik nie die papier werd waarop dit geskryf word nie en dit is ‘n skande dat die departement dit goedkeur. Van kwaliteit is daar geen sprake nie.
Daar kan geen debat wees oor die gebrek aan dienslewering op alle vlakke van regering nie. Van binnelandse sake waar geboortesertifikate wegraak en paspoort-aansoeke maande duur, tot by werkloosheidsversekering en die ongevallekommissaris. Op grondvlak word vullis nie verwyder nie en slaggate lei tot lewensverlies.
Hospitale word toenemend lykshuise waar selfs roetine-behandeling lewensgevaarlik raak. Daar is ‘n tekort aan medisyne en toerusting en soos met die huidige pandemie word lewensnoodsaaklike goedere in ‘n pakkamer of onder ‘n seil in die wind en reën vergeet.
Gegewe hierdie stand van sake is tot onbegryplik dat senior staatsamptenare steeds tot onlangs toe hul volle jaarlikse bonusse op grond van prestasiebeoordelings ontvang het. Hoe is dit enigsins moontlik? Hierdie departement se doel is juis om deur monitering enige tekortkoming in dienslewering uit te wys.
Ministers, as die politieke hoofde van departemente moet sorg vir dienslewering, dat korrupsie nie plaasvind nie en dat daar aan wette en regulasies voldoen word. Met blaamverskuiwing gebeur dit egter nie en ministers pak bloot die skuld vir swak prestasie op amptenare soos die direkteurs-generaal terwyl ministers dié is wat goeie prestasiebeoordelings afteken sodat amptenare volle bonusse ontvang.
Die prestasie van ministers en adjunkministers self is ook hier van toepassing. Prestasie-ooreenkomste met ministers is nou gefinaliseer en gepubliseer, maar wat gaan verder gebeur? Hoe en wanneer sal die president die ministers se prestasie beoordeel? Sal hierdie beoordelings bekend gemaak word en wat sal met ministers gebeur wat onderpresteer? Een van die hoofredes vir die verval in Suid-Afrika is ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid. Hoe word adjunkministers verantwoordbaar gehou?
Die mislukking van die departement van beplanning, monitering en evaluasie veroorsaak dat dieselfde foute in alle departemente herhaal word sonder enige verantwoording. Dit laat die vraag ontstaan oor wat die nut van die departement dan is.