fbpx
Vryheidsfront Plus

Plaasaanval: VF Plus versoek gemeenskap om paraatheid op te skerp en by veiligheidstrukture aan te sluit

Die VF Plus in Gauteng doen ‘n beroep op landelike gemeenskappe om hul paraatheid op te skerp en by hul plaaslike veiligheidstrukture aan te sluit na ‘n plaasaanval Maandagaand buite Fochville.

Mnr. Gerrie Brits en sy vrou, Susan, is deur drie mans op hul plaas in die Elandsfontein-omgewing ingewag en oorval. Brits is gedwing om die kluis oop te sluit waarna hy teen die kop geslaan is.

Die verdagtes het ‘n haelgeweer, twee handwapens, skootrekenaar, selfone en kontant in die gesin se Ford Ranger-bakkie gelaai en weggejaag.

Die bakkie is later verlate in die Kokosi-nedersetting gevind.

Die VF Plus se raadslid in Merafong-munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Welverdiend, Blybank, Khutsong), Ben van der Berg, het gister die plaas besoek en mnr. Brits ‘n spoedige herstel toegewens.

Die polisie se landelike veiligheidsplan beteken niks sonder die behoorlike uitvoering daarvan nie.

Die VF Plus waarsku die Gautengse LUR vir gemeenskapveiligheid, Faith Mazibuko, gereeld om meer te doen om die veiligheid van mense in landelike gebiede te verseker.

Die VF Plus sal nie die druk op owerhede laat vaar om die plan behoorlik te implementeer en genoeg mannekrag en toerusting na polisiekantore te ontplooi om die veiligheid van weerlose mense te verseker nie.

Die plaasaanval moet opnuut dien as ‘n wekroep aan alle Suid-Afrikaners om in die komende plaaslike regeringsverkiesing saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en sterk standpunt in te neem teen die ANC wat sy rug op landelike gemeenskappe gedraai het.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.