fbpx
Vryheidsfront Plus

Suid-Afrika het nie meer rede om trots te wees op sy weermag (SANW)

(Begrotingsposdebat in parlement: Verdediging en militêre veterane)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) bied geen rede meer vir Suid-Afrikaners om op hom trots te wees of hom te vertrou nie en baie van sy probleme moet toegeskryf word aan die politieke leierskap van die ANC-regering.

Dit is verontrustend om te verneem dat die wapenvervaardiger Denel, eens ’n internasionaal gerekende wapenreus en tegnologiese baanbreker op dié gebied, nie in staat is om sy werknemers se salarisse te betaal nie.

Dit is die gevolg van wanbestuur en die feit dat onbekwame en ongekwalifiseerde bestuurslede onder die vaandel van regstellende aksie (RA) in dié staatsonderneming aangestel is. Wat by Denel gebeur, dien as bewys hoe RA staatsinstellings en die land se ekonomie vernietig.

Die is onverstaanbaar dat die regering nie kan insien dat bekwame en opgeleide mense in bestuursposte aangestel moet word en nie net kaders wat lojaal is aan die ANC-regering nie. Solank dit gebeur, sal die probleme voortduur.

’n Land se weermag is veronderstel om die trots van ’n nasie te wees aangesien dit sy soewereiniteit moet beskerm. Dit is nie die geval met die SANW nie en daar is tye wanneer ’n mens eerder jou kop in skaamte laat hang oor die weermag.

Een voorbeeld hiervan is wanneer die minister, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, partypolitieke mense met ’n militêre vliegtuig oor die land se grense laat vervoer. Vrae hieroor word nie in die parlement beantwoord nie wat beteken die politieke hoof van die weermag stel die voorbeeld oor swak dissipline.

’n Mens laat jou kop in skaamte hang oor miljarde rande wat in die weermag bestee word waarby korrupsie ter sprake is soos met die aankoop van Covid-19-entsof van Kuba. Die minister sou ’n paneel aanstel om dit te ondersoek, maar tot nou toe is daar geen uitslag hieroor nie.

Dit is bekend dat die topbestuur van die weermag teen so ’n ondersoek gekant was, en die vraag kan gevra word of die minister wel die ondersoek laat doen het.

‘n Minister van verdediging moet ’n navolgingswaardige voorbeeld stel vir die weermag. Dit gebeur nie in Suid-Afrika nie en ’n eerbare uitweg vir die huidige minister sal wees om af te tree of te bedank.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.