fbpx
Vryheidsfront Plus

Swak regering, korrupsie en staatskaping kniehalter industrialisering van Suid-Afrika

(Begrotingsposdebat in parlement: Handel, nywerheid en mededinging)

Die Vryheidsfront Plus verwelkom die erkenning van die minister van handel, nywerheid en mededinging, mnr. Ebrahim Patel, oor die impak van swak regering, korrupsie en staatskaping op die industrialisering van Suid-Afrika.

Die minister het in 2017 ‘n verslag aan die kabinet voorgelê oor die impak van korrupsie op infrastruktuurontwikkeling met die aanname dat ‘n oorbetaling van 10% weens korrupsie ‘n bedrag van R1 miljard sou verteenwoordig.

Die VF Plus het die parlementêre komitee vir handel, nywerheid en mededinging gevra of ‘n derde fokusarea nie bygevoeg moet word met besondere verwysing na swak regering, staatskaping en korrupsie as belemmering vir die uitbreiding van die departement se industrialisasie-doelwitte nie.

Dit is buiten die gewone klem van die departement op binnelandse ekonomiese groei wat onregverdig is weens vroeëre diskriminerende beleid en strukturele uitdagings.

Die departement as bewaarder van die breëbasis-swart ekonomiese bemagtigingsraamwerk (BBSEB) is nie in staat om 'n inklusiewe ekonomie te bou en deelname te verbreed waardeur alle Suid-Afrikaners bemagtig word nie. Solank sekere groepe uitgesluit word deur BBSEB en die eksklusiewe bemagtiging van swart nyweraars voorkeur geniet, sal die ekonomie nie groei nie.

BBSEB sal slegs slaag as die Suid-Afrikaanse ekonomiese groei op alle gebiede slaag. Die blote herverdeling van hulpbronne sal net lei tot die herverdeling van armoede.

Enige program van die Suid-Afrikaanse regering en die departement vir handel, nywerheid en mededinging om groei te bewerkstellig wat nie op gesonde sakebeginsels gegrond is nie, sal lei tot ‘n swaar gesubsidieerde welsynsprogram wat deur oorbelaste belastingbetalers gefinansier moet word.

Die VF Plus verwelkom die departement se program om plaaslike- en streeksproduksie te stimuleer en so Suid-Afrika se industrialisering te bevorder, maar ekonomiese streeksontwikkeling sal sterk steun op die veronderstelling dat distriksmunisipaliteite en plaaslike regering die departement se ekonomiese groeiplan plaaslik moet steun.

Dit sal egter nie realiseer nie aangesien plaaslike regering in Suid-Afrika reeds gefaal het.

Die onvermoë van provinsiale- en plaaslike regering om padnetwerke, water, riolering en elektrisiteit te voorsien, belemmer die beplanning van die departement om die plaaslike ekonomiese ontwikkeling van veral klein- en medium-ondernemings te stimuleer en werksgeleenthede te skep.

Minder munisipaliteite onder ANC-beheer na die plaaslike regeringsverkiesing kan die situasie verbeter.

Die implementering van die oorywerige Covid-19-regulasies het ook ‘n negatiewe impak op die ekonomie gehad, veral op die drank- en tabakbedryf.

Dit is verder 'n ernstige bekommernis dat daar nou meer behaal moet word met die toegewese begroting vir die departement wat reëel met 0,7% (R70,9 miljoen) gestyg het en 'n voorspelde daling in die reële begroting vir die komende boekjaar.

Van die sestien entiteite wat aan die departement rapporteer, is slegs vier selfbefonds. Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) is sedert 2018 onder administrasie en sy driejaar-omkeerplan het misluk.

Indien die entiteite nie dringend reggeruk word nie, sal die departement nie sy mandaat kan vervul om die Suid-Afrikaans ekonomie te laat groei tot voordeel van al sy inwoners nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.