Terwyl tientalle mense reeds in die vloede in KwaZulu-Natal omgekom het en talle vermis word, het nie die polisie of die weermag tans helikopters beskikbaar vir enige hulpverlening of reddingsaksie nie.
Die polisie se lugvleuel in Durban het klaarblyklik een werkende helikopter beskikbaar, maar die vlieënier is siek en ’n ander vlieënier is van Nelspruit ontbied om te help.
Lugvaardige helikopters is tans ’n nasionale probleem. In Bloemfontein is glo net een uit drie polisie-helikopters tans in ’n werkende toestand.
Die weermag (SANW) se vyftiende eskader in Durban het ook geen helikopter beskikbaar om te help nie.
Dié eskader het blykbaar wel twee werkende helikopters, maar volgens die VF Plus se inligting word hulle tans in Port Elizabeth aangewend waar daar sedert begin verlede jaar geen werkende polisie-helikopter beskikbaar is nie (TimesLive; 8 Maart 2021: Police wings clipped as helicopters don’t fly in Eastern Cape).
Dit is duidelik dat die polisie se diens in die lug in baie gevalle net so swak as op grondvlak is. Hierdie stand van sake is onaanvaarbaar en laat die publiek in die steek.
Die gebrek aan lugsteun in die vloede kan direk daartoe bydrae dat mense sterf wat andersins moontlik gered sou kon word.
Die nuwe polisiekommissaris, genl. Fanie Masemola, sal die helikopter-situasie as prioriteit moet behandel aangesien die polisie se lugvleuel en veral die helikopters ’n groot rol spel in die bestryding van misdaad.
Lugsteun is veral van groot waarde waar gesoek word na voortvlugtendes ná misdaad soos motor- en vragmotorkapings.
Onlangse voorleggings van Denel en Krygkor aan die parlement se portefeuljekomitee vir verdediging, het ook duidelik uitgewys dat die SANW se lugvermoë ernstig verswak is.
Hiervolgens is net 21% van die weermag se totale lugvloot tans in ’n operasionele toestand (BusinessTech; 17 Februarie 2022: Only a fraction of South Africa’s airforce is operational right now).
Dit sluit onder meer in 4 van die 11 Rooivalk-helikopters wat lugvaardig is en 17 van die 39 Oryx-helikopters.
Die kommerwekkende hiervan is dat die situasie deurgaans verswak en indien dit voortduur, sal die land binnekort feitlik oor geen lugvermoë beskik nie.