Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette haak by die parlementêre portefeuljekomitee vas. Die vraag is waarom?
Hierdie wetsontwerp, bekend onder die Engelse afkorting "Bela Bill" is reeds in 2017 die eerste keer geloods. Dit wysig hoofsaaklik die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996. Die inhoud daarvan was uit die staanspoor omstrede, omdat dit belangrike bevoegdhede van skoolbeheerliggame na provinsiale departementshoofde verplaas.
Ouers en ander belanghebbendes kan die VF Plus se aksie teen die wetswysiging steun by die volgende skakel: (https://forms.gle/B1tMxeumemvdyiAcA). Die volledige teks van die wetsontwerp kan hier gelees word: (https://www.parliament.gov.za/bill/2300398)
Talle individue en instellings het aan die openbare deelnameproses rondom die wetsontwerp deelgeneem en onderwysminister Angie Motshekga het einde 2021 'n nuwe weergawe daarvan aan die portefeuljekomitee bekend gestel. Komiteelede het met soveel kritiese vrae vanuit hul onderskeie kiesafdelings gekom, dat die komitee besluit het om ook sy eie openbare deelnameproses te volg.
Op Dinsdag 22 Maart vanjaar is die komitee ingelig dat 'n spesifieke whatsap-nommer, e-posadres en 'n Google-vorm bekend gestel sou word wat lede van die publiek sou help om hul menings te lug. Die proses sou daardie Vrydag (25 Maart) in werking tree en op 30 April om 17:00 sluit.
Aangesien die VF Plus self sterk standpunte oor die wetsontwerp het, het die party sy eie veldtog in dié verband geloods. Die skakels vir die portefeuljekomitee se proses is ook aan ander instansies versprei.
Hierdie instansies is egter in kennis gestel dat die betrokke kanale nog nie oop is nie, alhoewel dit funksioneer. Op navraag is die VF Plus ingelig dat die deelnameproses nog moet open en dat komiteelede in kennis gestel sal word wanneer dit gebeur.
Vandag (Donderdag 14 April) het komiteelede kennis van 'n vergadering op 19 April ontvang, waar vordering met die deelnameproses bespreek sal word. Dit is sewe werksdae voor die aanvanklike sluitingsdatum.
Wanneer inligting skaars is, is mens geneig om die ergste te glo. Gaan die deelnameproses te kort wees vir sinvolle deelname? Wil die ANC die wetsontwerp terugtrek, soos die VF Plus aan die hand gedoen het? Aangesien hierdie wetgewing elke gesin en elke gemeenskap in Suid-Afrika raak, is dit belangrik dat prosesse ten minste bo verdenking staan.
Die VF Plus het tevore verklaar dat die wetsontwerp om twee redes onaanvaarbaar is: Dit sentraliseer die bevoegdheid om 'n skool se aard te bepaal van demokraties verkose skoolbeheerliggame na provinsiale departementshoofde; en dit neem onomkeerbare verwikkelinge in tuisonderrig, mikroskole, aanlynonderrig en ander tegnologiese verwikkeling glad nie ag nie – die wetgewing is dus verouderd voordat dit nog aanvaar is.
Intussen gaan die VF Plus met sy eie veldtog, onder die opskrif "Lui die klok oor die Bela Bill" voort.