fbpx
Vryheidsfront Plus

Ten spyte van mooi woorde laat ANC-regering vroue al hoe meer in die steek

(Parlementêre debat: Nasionale Vrouedag en die bevordering van geslagsgelykheid deur inklusiewe ekonomiese groei in ‘n bekwame ontwikkelende staat)

Ten spyte van mooi woorde en beloftes van die ANC-regering oor geslagsgelykheid en ekonomiese inklusiwiteit in Suid-Afrika, is die realiteit wat vroue daagliks ervaar, net die teenoorgestelde.

Vir die regering om homself ‘n “bekwame” ontwikkelende staat te noem in ‘n parlementêre debat oor die aangeleentheid, wys hoe goedkoop met woorde omgegaan word en hoe ver verwyder die regering van die werklikheid is.

‘n Ontwikkelende staat streef daarna om te voldoen in die behoeftes van al sy mense. Die grootste hiervan ‘n vaste werk met ‘n leefbare inkomste en toekomssekerheid. Ook om veilig te voel teen misdaad, om staatsinstellings te kan vertrou, toegang te hê tot goeie gesondheidsorg en om betroubare dienslewering te ontvang waarvoor betaal word.

Hierdie is die basiese dinge wat ‘n “bekwame” ontwikkelende staat aan sy inwoners moet gee. In Suid-Afrika stel die regerende party egter sy eie belange bó die behoeftes van die land se mense.

Werkloosheid staan op ‘n allerhoogste vlak van 44,4% wat die 3,4 miljoen persone insluit wat alle moed opgegee het om ‘n werk te vind. In hierdie wanhoopsituasie gaan dit die heel slegste met swart vroue van wie 41% werkloos is.

Jeugwerkloosheid in die ouderdomsgroep 15 tot 24 is 64,4%. Hiervan ontvang 3,3 miljoen geen vorm van opleiding of onderrig nie. Hulle is in die steek gelaat.

Midde in hierdie staatsgeskepte krisis gaan meer werk daagliks verlore deur die mislukkings van die regering. Een voorbeeld is die Clover-fabriek in Noordwes waar 300 mense hul werk verloor omdat die onderneming besig is om te sluit weens swak dienslewering. Al die werkers is hier in die steek gelaat deur die staat.

Die VF Plus wys gereeld in die parlement op die mislukkings van die staat waar dit kom by die bevordering en beskerming van vroueregte. Nuusopskrifte getuig daagliks van die stortvloed moorde, aanrandings, mishandeling en verkragtings van vroue.

Hoe moet vroue veilig voel wanneer ‘n vrou elke drie ure in die land vermoor word? Het enigiets verander sedert vroue in 2019 voor die parlement hieroor betoog het? Nee. Vele beloftes is gemaak, maar niks het verbeter nie. Vroue word in die steek gelaat.

Midde-in hierdie omstandighede het die ANC steeds die vermetelheid om te sê vroueregte word bevorder deur ‘n inklusiewe ekonomie in ‘n “bekwame” ontwikkelende staat. Hierdie woorde is ‘n klap in die gesig van elke Suid-Afrikaner, en veral van elke vrou en kind in die land.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.