fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus maan regering teen gevaar van teenstrydige Covid-19-uitsprake

Ministers in die ANC-regering moet daarteen waak om met teenstrydige uitsprake verwarring te skep rondom die regering se standpunt oor die toediening van Covid-19-inentings en die regte van die publiek om geënt te word of nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het dit in die onlangse verlede herhaaldelik beklemtoon dat inentings vrywillig is en dat die regering Suid-Afrikaners se grondwetlike regte hieroor sal respekteer.

Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, het vandag tydens ‘n vergadering van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) afgewyk van pres. Ramaphosa se ondernemings in dié verband.

In antwoord op vrae van die VF Plus oor onder meer die inenting van kinders, het dr. Phaahla gesê die regering oorweeg dit wel om die inentingsprogram later na kinders van twaalf jaar en ouer uit te brei. Hy het dit ook duidelik gemaak dat die regering dit later wel kan oorweeg om oningeënte persone se toegang tot openbare persele en dienste te beperk.

Volgens dr. Phaahla sou die regering soortgelyke beperkende maatreëls deur sake-ondernemings en openbare ontspanningsgeriewe soos rolprentteaters en restaurante steun.

Hierdie uitsprake neem nie die grondwetlike regte van Suid-Afrikaanse burgers in ag nie en weerspieël ‘n skynbare wanbegrip van die omvang van die publiek se onsekerheid rakende Covid-19 en inentings. Sulke uitsprake kan weerstand wek teen die regering se Covid-19-programme.

Die VF Plus maan die regering om oordeelkundig op tree in hierdie sensitiewe kwessie en dring daarop aan dat alle Suid-Afrikaners, insluitend kinders, se grondwetlike regte tydens besluitneming gerespekteer word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.