Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tekort aan polisievoertuie in Mpumalanga moet dringend aandag geniet

Die VF Plus in Mpumalanga is uiters bekommerd oor die tekort aan polisievoertuie in dié provinsie en veral in die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit wat ‘n gebied van 27 896km² bedien.

Die VF Plus het etlike maande gelede reeds vrae gerig aan Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, waarin 'n verduideliking gevra word aangaande die kritieke tekort aan polisievoertuie in die provinsie.

Dit het gevolg nadat die VF Plus om hulp genader is om die tekort aan polisievoertuie onder die aandag van Mpumalanga se wetgewer te bring.

Verskeie polisie-eenhede het voertuie wat vir weke lank in die werkswinkel staan om herstel te word wat daartoe lei dat daar gereeld net een of twee voertuie per eenheid beskikbaar is om misdaad te beveg.

In Ehlanzeni is daar luidens mediaberigte tans sowat 40 polisievoertuie wat weens meganiese probleme by die polisie-werkswinkel in Mbombela (Nelspruit) staan.

Die VF Plus wou met ‘n vorige vraag by die LUR weet hoe dit moontlik is dat die voormalige provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal, Mondi Zuma, toegelaat is om 13 superluukse voertuie soos onder meer BMW’s aan te koop vir R7,4 miljoen pleks van die geld te bestee aan betroubare vlootvoertuie vir die onderskeie polisie-eenhede.

Volgens Shongwe is die voertuie aangekoop as vlootvoertuie wat vir enige noodgeval gebruik kan word. Dit is egter nie die geval nie.

Mpumalanga is afhanklik van ‘n effektiewe polisiediens en indien voertuie nie beskikbaar is nie, kan polisiebeamptes nie op noodoproepe reageer en hul pligte effektief nakom nie.

Dit kan aanleiding gee tot ‘n ernstige veiligheidskrisis in Mpumalanga.

Die VF Plus eis dat Shongwe dringend optree om die tekort aan polisie-voertuie in die provinsie aan te spreek.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.