Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Syfers wys polisie doen nie onderneming gestand om plaasmoorde te prioritiseer nie

Die jongste syfers oor plaasmoorde en -aanvalle van TLU SA wat toon dat daar vanjaar reeds 47 plaasmoorde en 246 aanvalle was, is uiters kommerwekkend en dien as bewys dat die polisie se onderneming om dié tipe misdaad as ‘n prioriteit te hanteer, nie in die praktyk uitgevoer word nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die polisie sal dringend aandag moet gee aan veral landelike beveiliging, en die polisie se misdaadintelligensie, in besonder oor plaasmoorde en -aanvalle, sal behoorlik moet begin funksioneer.

Dr. Groenewald sê in die onlangse aanval by Wolmaransstad waar die boere self die aanvallers aangekeer het, was daar selfs ‘n lid van die polisie onder die beskuldigdes. Hy sê dit beteken die polisie slaag nie daarin om misdadige elemente in eie geledere te verwyder nie ten spyte van die minister van polisie, Fikile Mbalula, se onderneming om dit te doen.

“Die hoë voorkoms van misdaad in Suid-Afrika vereis dat daar daadwerklike optrede van die polisie moet wees en nie net lippetaal deur die minister nie

“Indien ‘n mens kyk na misdaad in die algemeen wil dit begin voorkom asof die polisie die stryd teen misdadigers begin verloor.

“Ek sal weer die kwessie van plaasmoorde en -aanvalle bespreek by die polisie se parlementêre portefeuljekomitee en sal verduidelikings vra oor die opskerping van landelike beveiliging en misdaadintelligensie op plattelandse gebiede.

“Ek wil my dank uitspreek teenoor landbougemeenskappe en organisasies soos TLU SA wat hul eie veiligheidstelsels in werking te stel. As dit nie vir die effektiewe optrede was nie, sou syfers aansienlik hoër gewees het,” het dr. Groenewald gesê.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.