Die roekelose finansiële bestuur van die ANC/EFF/ActionSA-koalisieregering in die Tshwane-metro stel die metro se fiskale stabiliteit in gevaar en laat belastingbetalers met ʼn groeiende skuldlas.
Die jongste verhoging van die metro se oortrokke gerief vanaf R600- tot R800 miljoen, is nie net ʼn teken van finansiële wanbestuur nie, maar ʼn skending van verantwoordelike openbare finansiering.
Die verhoging is nie net die gevolg van inflasie of seisoenale kontantvloei-probleme nie. Dit is die resultaat van ʼn koalisie wat nie oor die vermoë of die politieke wil beskik om die metro se fiskale raamwerk met integriteit te bestuur nie.
Onder leiding van die ANC-onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir finansies, mnr. Eugene Modise, het die metro ʼn pad van skuldgedrewe verval betree.
Die sogenaamde skuldverligtingsprogram, wat in Junie 2025 in werking gestel is en gelei het tot die afskryf van R1,86 miljard van beide residensiële en kommersiële rekeninghouers, is deurgevoer sonder enige volhoubare fiskale model of statutêre verandering.
Intussen het inwoners en instansies se uitstaande skuld gestyg tot R18,3 miljard met ʼn 600% toename in nuwe wanbetalings binne die 30 – 60 dae tydperk.
Dit dui nie op skuldverligting nie, maar skuldverspreiding sonder aanspreeklikheid.
Die VF Plus het herhaaldelik gewaarsku teen die gevolge van populistiese beleid wat nie aan die beginsels van fiskale dissipline, wetlike nakoming en openbare verantwoordbaarheid voldoen nie.
Die metro se finansiële stabiliteit is nie ’n laboratorium vir ideologiese eksperimentering nie. Die huidige koalisie het nie net die begrotingsproses verpolitiseer nie, maar het ook die institusionele raamwerk vir goeie bestuur ondermyn.
Die VF Plus eis onmiddellike verduideliking van Modise oor die volgende:
• Die statutêre grondslag waarop die skuldverligtingsprogram berus.
• Die impak van die program op die metro se kontantvloei en kredietwaardigheid.
Die beskerming van openbare fondse is nie ’n politieke opsie nie, dit is ’n grondwetlike plig. Die VF Plus sal nie toekyk terwyl fiskale roekeloosheid die metro se toekoms bedreig nie en het daarom teen die item gestem.


