Die swak bywoning van onlangse vergaderings rakende die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) is ʼn aanduiding dat die Dipalaseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad en Grootvlei ) nie genoeg doen om inwoners by openbare deelnameprosesse te betrek nie.
Die Munisipale Strukturewet verplig munisipaliteite om toeganklike geleenthede vir inwoners te skep om insette op die GOP te lewer.
Van die hoofredes vir die swak bywoning van die vergaderings, is die kort kennisgewing van vergaderings, tydgleuwe wanneer baie inwoners nog by die werk is en taalhindernisse weens die gebruik van slegs Engels.
Amptenare is ook geneig om inwoners se vrae met vae antwoorde of ontwykend te beantwoord.
Die VF Plus het oor die jare verskeie voorstelle aan die speaker van die raad, mnr. Xolani Shozi, die burgemeester, me. Busisiwe Khanye en munisipale bestuurder, mnr. Lwazi Cindi, voorgelê om hierdie vergaderings meer inklusief te maak en die gemeenskap se werklike behoeftes beter te weerspieël.
Van die voorstelle behels:
• Alternatiewe tye.
• Alternatiewe persele en bykomende vergaderings.
• Dat vergaderings genotuleer word.
• Dat terugvoer gegee word oor vrae van vorige vergaderings.
• Dat gekommunikeerde vergaderings nie op die laaste minuut gekanselleer en nie geherskeduleer word nie.
• Dat Engels as taal tydens vergaderings gebruik word met tolke wat anderstaliges kan bystaan.
Al die voorstelle is bloot geïgnoreer en daarom het die VF Plus die munisipaliteit se versuim op behoorlike openbare deelname rakende die GOP-proses na Mpumalanga se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) mnr. Speedy Mashilo, geëskaleer.
Dit is Cogta se verantwoordelikheid om toe te sien dat munisipaliteite aan die nodige wetgewing voldoen en die belange van inwoners prioritiseer.


