Die VF Plus het ʼn dringende beroep op die munisipale bestuurder van die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, me. Unati Daniels, gedoen om by die Sondagsrivier-plaaslike munisipaliteit in te gryp weens die voortslepende probleem van rondloperdiere in Kirkwood.
Inwoners van Kirkwood se klagte by die Sondagsrivier-munisipaliteit oor beeste, bokke en skape wat in die dorp se strate en omliggende gebiede rondloop, het tot dusver op dowe ore geval.
Munisipaliteite in Suid-Afrika is verantwoordelik vir die bestuur van rondloperdiere in openbare ruimtes en op paaie.
Die rondloperdiere hou nie net ʼn gevaar in vir motoriste en voetgangers nie, maar verwoes ook tuine en sitrusboere se vrugteboorde.
Grondeienaars poog verniet om heinings te herstel en toegang te beperk, die diere bly deurbreek vanaf aangrensende eiendomme en via die besproeiingskanaal.
Die enigste oplossing wat Sondagsrivier tot dusver kon vind, was om werkers wat deel uitmaak van die gemeenskapswerkprogram as “bokwagters” aan te stel om die diere uit die dorp te probeer hou.
Hierdie situasie kan nie langer voortduur nie en dringende optrede is nou nodig.
Die VF Plus het die volgende versoeke aan die munisipale bestuurder gerig:
• Om ʼn volledige ondersoek te doen na die herkoms en eienaarskap van die diere.
• Samewerking tussen grondeienaars, plaaslike owerhede en landbouverenigings om ʼn volhoubare oplossing te vind.
• Die verbetering van die grense om die besproeiingskanaal.
• Verbeterde toesig en regulering van rondloperdiere met die toepassing van bestaande wetgewing.
• Om ʼn funksionele skut te vestig waarheen rondloperdiere geneem kan word tot eienaars hulle opeis.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op beide munisipaliteite om hierdie probleem spoedig op te los.


