Die krisis in gesondheidsdienste weens stakende gesondheidsamptenare in Noordwes het daartoe gelei dat twee vroue lewensnoodsaaklike operasies geweier is omdat die hospitaal in Delareyville gesluit was.
Een vrou moes ‘n noodkeisersnee in die hospitaal ondergaan en ‘n ander moes behandeling na ‘n miskraam kry, maar weens die feit dat gesondheidsdienste weens stakende personeel nie beskikbaar is nie, moes hulle na ‘n hospitaal in ‘n nabygeleë dorp vervoer word.
Die twee vroue is ook behandeling geweier by Lichtenburg en is na Vryburg se hospitaal gehaas.
Hulle is per polisievoertuie na die hospitale vervoer weens ongerymdhede tussen die regering en die Buthelizi-ambulansdienste wat gevolglik tans nie dienste aan inwoners lewer nie.
Gesondheidsorg in Noordwes word tans lamgelê deur die premier, Supra Mahumapelo, wat die provinsie effektiewelik geiselaar hou om so lank as moontlik in sy pos aan te bly.
Die effek daarvan is dat Noordwes se swakstaat-status vererger met die moontlikheid dat onluste wat die afgelope twee dae in Mafikeng voorkom, na die res van die provinsie kan uitbrei en beseerdes nie deur Supra se super-swak mediese dienste behandel sal kan word nie.
Soos met oud-president Jacob Zuma die geval was, moet Mahumapelo die regte ding doen en bedank as premier van Noordwes.
Hy het nie net ‘n politieke ramp vir die ANC geword het nie, maar mense in dié provinsie se lewe word nou in gevaar gestel weens die Mahumapelo-ramp wat die regerende party eenvoudig nie kan bestuur nie.
Kontaknommer: 079 409 8342