Twee gelyke euwels, armoede en ongelykheid, lê aan die wortel van Suid-Afrika se ekonomiese probleme. Albei moet gelyk behandel word. Indien daar net op ongelykheid gefokus word, sal dit ‘n ekonomie skep waar almal ewe arm is, buiten die elite wat die mag besit, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts het in vandag se parlementêre debat oor ekonomiese groei en ‘n transformasiemodel om werkloosheid, armoede en ongelykheid te bestry, gesê indien daar net gefokus word op ongelykheid, gaan ‘n land lyk soos Zimbabwe, Noord-Korea, Kuba, Venezuela, die voormalige Oosbloklande en Sowjet-Unie.
Hy sê indien daar gefokus word op die probleem van armoede, sal die besef deurskemer dat ‘n strategie nodig is wat die ekonomie laat groei met gepaardgaande werkskepping. Sodoende word mense op ‘n waardige wyse opgehef en is hulle nie meer afhanklik van aalmoese van die regering nie.
“Mettertyd, soos die middelkas groei, word die ongelykheidsprobleem ook aangespreek en word die probleem kleiner. Daar bestaan talle voorbeelde in die laboratorium van die geskiedenis waar die klem op ekonomiese groei talle mense uit armoede gelig het: Europa, veral Oos-Europa na die Koue Oorlog, Singapoer, Suid-Korea, Japan en onlangs ook Sjina en Mauritius.
“Hierdie lande het ‘n vrye mark en entrepreneurskap omarm en het verantwoordelik omgegaan met hul fiskale- en monetêre beleid. Daar is nie net op ongelykheid gefokus nie, maar daar is seker gemaak dat ‘n omgewing geskep word wat sakegroei stimuleer sonder onnodige inmenging van die regering.
“Ongelukkig het die ANC-regering die klem op die uitwissing van ongelykheid geplaas en nie op ekonomiese groei nie en ons begin nou die vrugte daarvan pluk in die vorm van bykans geen ekonomiese groei nie, die verlies aan werkgeleenthede, afgraderings en uiteindelik die vergroting van ongelykheid.
“Waarin die ANC-regering tans slaag is wel om ons almal armer te maak en sou die tendens aanhou, gaan almal binnekort ewe arm wees.
“Die enigste manier om hieraan te ontkom is om kwaliteit onderwys en gesondheidsorg te verseker, minder inmenging van die regering in die sakebedryf en om ras weer uit die ekonomie te haal. Om dit te vermag sal daar egter ‘n nuwe regering met kom wat omgee, wat professioneel is, nie diskrimineer nie en nie gekaap is nie.
“Die vraag is of die ANC-regering introspeksie sal kan doen en hierdie feite kan raaksien en optree? Dis ‘n vraag wat net julle kan antwoord, maar wees gewaarsku dat die kiesers julle met valk-oë dophou,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216