Die VF Plus in Gauteng het vandag gesê die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, moet ophou om Afrikaanse skole in die provinsie met swepe te slaan.
Dit volg op die jongste voorval waar die LUR die Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord aanvat in die media en op sosiale media oor die skool se taalbeleid. Volgens mediaberigte gaan die LUR en die departement ‘n ondersoek loods rondom die skool se taalbeleid.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, sê Lesufi is moedswillig met sy politieke agenda wat hy op skole wil afdwing en dat hy deurgaans sekere skole uitsonder en van hulle sondebokke probeer maak om sy eie foute toe te smeer.
Van Staden het dit benadruk dat Lesufi blykbaar nie verstaan wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet staan nie, en dit is dat elke taalgroep in hierdie land die reg het om in sy eie moedertaal onderrig te word. Die VF Plus wil graag weet waar Afrikaanse leerders dan heen moet gaan as hul nie skole in hul eie gemeenskappe mag bywoon om in Afrikaans onderrig te word nie.
“Die LUR se uitsprake is ‘n absolute gekheid. Die LUR is bewus daarvan dat Gauteng tans te min skole vir te veel leerlinge het. Die LUR sal moet begin verduidelik waarom daar nie skole in Gauteng gebou word nie al is daar begroot daarvoor. Waarheen moet Afrikaanse leerlinge gaan as ‘n skool te vol is? Hul kan tog sekerlik nie uit die skool gehaal word en nie ‘n opvoeding kry nie?
“Lesufi is besig met ‘n heksejag teen skole in die provinsie wat wel goed presteer en funksioneer om sodoende sy eie laksheid en swak bestuur toe te smeer.
“Die VF Plus gaan hierdie gedrag van die LUR nie langer duld nie en Lesufi sal baie vinnig in sy spoor moet trap en sy werksaamhede as LUR moet begin uitvoer en ophou om sy wil op skole af te dwing anders gaan hy homself teen ‘n muur van weerstand vanuit die Afrikaanse gemeenskap vasloop,” sê Van Staden.
Kontak: 084 015 4722