(Begrotingsposdebat in parlement: Water en sanitasie)
Dit is teleurstellend dat die waterkrisis in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) ongesiens by politieke partye soos die ANC, die DA en die IVP verbygegaan het tydens ’n debat oor water en sanitasie in die parlement.
Dit is nie net ’n Oos-Kaapse probleem nie, maar is tekenend van die situasie in die res van die land en dien as bewys dat Suid-Afrika sy skaars waterbronne beter moet benut aangesien elke druppel water kosbaar is. Mense besef dit ongelukkig eers wanneer die laaste druppels begin opdroog.
Daar word baie gesien hoe groot hoeveelhede water wegvloei na die see op plekke waar dit goed gereën het. Vir een van die dertig droogste lande ter wêreld kan hierdie vermorsing nie bekostig word nie. Daar moet meer damme gebou word, ook in die Oranjerivier en water moet daarvan herlei word.
Landbou is belangrik vir voedselsekerheid en werkskepping en Suid-Afrika se boere doen steeds baie goed met min water. Met genoeg water kan hulle soveel meer beteken vir die land. Die omgewing van Kirkwoord en die Sondagsriviervallei met sy groot sitrusboorde, wat deurlopend water van die Oranjerivier kry, wys hoe suksesvol daar geboer kan word met genoeg water.
Dieselfde kan gedoen word in die omgewing van Graaff-Reinet, Aberdeen, Willowmore, Steytlerville tot by die NMBM. Daar lê duisende hektaar grond wat met voldoende water bewerk kan word.
Gegewe die groot bedrae geld wat weens korrupsie en bedrog verlore gaan, kan die verskoning nie gebruik word dat daar nie geld is om hiervoor voorsiening te maak nie. Dit is nie ’n luukse nie, dit gaan oor oorlewing en sal ook die ontvolking van die platteland teëwerk.
Die NMBM se grootste dam, die Kouga, is tans net 4% vol. Sy opvangsgebied is Willowmore, die Baviaanskloof, Joubertina, Misgund tot by Haarlem.
Twee weke gelede het dit 150mm in dié gebied gereën en tog het die Kouga nie gestyg nie. Die rede hiervoor is dat sytakke wat water na die dam moet afvoer, toegegroei is. Dit is ’n krisis. As korttermyn-oplossing moet daar dringend water-opvangtenks op behoorlike wyse by woonhuise opgerig word om elke druppel op te vang.
Die NMBM staan voor ’n humanitêre ramp wat elke persoon in die gebied raak. Dit moet as waarskuwing dien vir die res van die land oor die kosbaarheid en benutting van water.