fbpx
Vryheidsfront Plus

Begroting van Stad Kaapstad neem baie inwoners se finansiële verknorsing nie in ag

Dit is teleurstellend dat die Stad Kaapstad-metroraad nie die uitslag van die openbare deelname-proses oor die metro se begroting in ag geneem met die voorbereiding van die finale begroting vir die 2021/22-finansiële jaar nie.

Die VF Plus is nie gekant teen tariefverhogings nie, maar dan moet dit billik wees en die huidige ekonomiese klimaat en inwoners se finansiële posisie in ag neem.

Die uitslag van die openbare deelnameproses wys duidelik dat inwoners van die metro swaar getref is deur die Covid-19-pandemie en nie buitensporige tariefverhogings sal kan bybring nie.

Die meeste versoeke van inwoners het gehandel oor die verhoging in elektrisiteitstariewe. Alhoewel ‘n 0% styging nie moontlik is nie weens Eskom se tariewe, vra die VF Plus dat die vaste maandelikse heffing van 13,48% in totaal geskrap word om inwoners finansieel tegemoet te kom.

Stygings in elektrisiteitstariewe moet eerder gegrond wees op die Verbruikersprysindeks (VPI) sonder die maandelikse vaste heffing.

Vanaf Dag Zero het die inwoners van die metro getrou hul waterverbruik verminder sonder die gepaardgaande vermindering in die watertarief. Inwoners word dus gestraf vir hul waterbesparing met ‘n verdere verhoging van 5% in die watertarief.

‘n Groot steen des aanstoots vir inwoners is die sogenaamde “pypheffing” vir waterverskaffing en rioolverwydering aan huishoudings. Die VF Plus dring daarop aan dat dit in geheel geskrap moet word.

Eiendomsbelasting is verhoog met 4,5% en baie inwoners het aangedui dat hulle dit nie sal kan bekostig nie en hul huise sal moet verkoop.

Die Stad Kaapstad se eiendomswaardasies is oor die algemeen te hoog en middelklas-inwoners, wat die grootste bron van inkomste is vir die metro, verkoop gereeld hul huise of gradeer af na goedkoper opsies in die platteland. Dit beteken ‘n groot verlies aan inkomste vir die metro.

Dit is ook onaanvaarbaar dat vullisverwydering met 3,5% styg, maar die nodige dienste nie altyd gelewer word nie en inwoners in sekere gebiede self planne moet beraam om vullis te verwyder.

Dis tyd dat die Stad Kaapstad se DA-beheerde raad moet luister na sy inwoners en hul griewe ernstig opneem en ophou om getroue belastingbetalers te straf vir die nie-betaling van dienste deur sommige gemeenskappe.

Inwoners van die Stad Kaapstad kan met die komende plaaslike regeringsverkiesing saam met die VF Plus opstaan teen buitensporige tariefverhogings wat reeds oorbelaste belastingbetalers finansieel doodwurg en om toe te sien dat belasting aangewend word in die gebiede waar dit geïn word.

Navrae: 072 195 6581

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.