Die VF Plus het herhaaldelik sy ontevredenheid uitgespreek omdat die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley en omgewing) nie die voorgeskrewe openbare deelnameproses vir sy begroting volg nie. Vandag is 'n begroting aan die raad voorgelê wat nie alle wyke se behoeftes in ag neem nie en ook nie 'n oplossing vir die munisipaliteit se grootste probleme bied nie.
Inwoners van Kimberley se oordeel is ondubbelsinnig: Die stad val uitmekaar. Dit is sigbaar in die vervalle toestand van die infrastruktuur vir vervoer, watervoorsiening en riolering. Wanneer gemeenskappe beleef dat die plaaslike owerheid hulle nie in ag neem nie, maak hulle bloot planne om sonder die munisipaliteit reg te kom.
So 'n situasie dwing die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit tot 'n keuse: Gaan die verskuldigde werk gedoen word om so die deelname van gemeenskappe te herwin; gaan dit irrelevant raak deur nie dienste te lewer nie en ook nie geld daarvoor te vra nie; of gaan dit die pad van tirannie loop, deur geld op te eis vir dienste wat nie gelewer word nie.
Die VF Plus is 'n wetgehoorsame party maar sal, indien sake só voortgaan, inwoners aanbeveel om “Sol-skerm” aan te skaf; dit is voertuie wat op enige pad kan ry, sonstelsels om krag op te wek en tenks om water te berg. Selfs riolering sal op 'n manier uit die hande van die munisipaliteit geneem moet word, om 'n ekologiese ramp te voorkom.
Dit is duidelik dat die VF Plus nie die begroting kan ondersteun nie.