fbpx
Vryheidsfront Plus

Styging in werkloosheid en gebrek aan prioritisering van plaaslike regerings skep toksiese mengsel wat munisipale dienslewering in duie laat stort

Die regering se gebrek aan fokus op die prioritisering van plaaslike regering in die Wysigingswetsontwerp op die Verdeling van Staatsinkomste, tesame met die jongste styging in die amptelike werkloosheidskoers, dra by tot ‘n toksiese mengsel van faktore wat munisipale dienslewering landwyd oor die afgrond kan laat stort.

Munisipaliteite landwyd het reeds te kampe met groot finansiële uitdagings weens ‘n vinnig krimpende belastingbasis wat vererger is deur die Covid-19-pandemie. Honderde klein- tot medium-sakeondernemings moes hul deure sluit weens die Covid-19-inperkings.

Grootskaalse afdankings het hierop gevolg en duisende huishoudings is sonder ‘n inkomste gelaat wat meegebring het dat munisipale heffings en belastings onbekostigbaar vir ‘n groot deel van die bevolking geraak het. Voeg hierby die grootskaalse plundering van die munisipale fondse wat wel beskikbaar was deur korrupte ANC-ontplooide amptenare en politici, en dit is ‘n resep vir totale die verval van dienslewering.

Die regering se skynbare apatie jeens die lot van plaaslike owerhede gaan slegs meebring dat ‘n groter las op getroue belastingbetalers geplaas word. Hierdie inwoners betaal reeds vir swak dienslewering en selfs vir dienste wat in baie gevalle nie gelewer word nie. Dit lei tot ‘n groeiende weerstand onder belastingbetalers wat tot die weerhouding van belastings kan lei.

Die regering se beleidsoplossings van die groter sentralisering van magte en die uitbreiding van totaal onproduktiewe “werkskeppingsprojekte”, is wensdenkery en is reeds as ondoeltreffend bewys.

Die VF Plus sal op alle vlakke van regering voortgaan om druk toe te pas vir sinvolle bestedingsprioriteite en die bestryding van korrupsie en wanbestuur. VF Plus-raadslede landwyd sal ook fokus op die skepping van sake-vriendelike omgewings om doeltreffende werkskepping in die hand te werk om sodoende stabiele belastingbasisse vir munisipaliteite te herstel.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.