fbpx
Vryheidsfront Plus

Stroping van openbare ondernemings neem skerp toe onder Lynne Brown

Die stroping van openbare ondernemings deur ‘n klein groepie staatsamptenare en hul konneksies in private ondernemings het die intensiteit bereik van ‘n skool piranhas wat hul prooi vlees van been stroop,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor openbare ondernemings.

Adv. Alberts sê hierdie stroping het onder minister Lynne Brown hand oor hand in intensiteit toegeneem.

“Onder die minister se toesig het ons die mees bisarre en blatante vorme van staatskaping gesien ontvou en dit speel steeds voor ons af soos ‘n swak riller. Die draaiboek is wel vol intrige, maar die uitvoering van die staatskaping is so swak weggesteek dat mens nie eens verbaas is wanneer nog ‘n kaper ontdek word nie.

“Dis asof die kapers weet hulle kan straffeloos handel en hoef daarom nie eens veel moeite te doen om hul handewerk te verdoesel nie.

“Vir die met die waagmoed om na hierdie riller te kyk, sal dit gou duidelik blyk dat die gewone verdagtes keer op keer hul verskyning maak:

• Die Gupta-gekoppelde Regiments Capital het ná sy winsgewende SEB Capitec-aandeletransaksie, diep in Transnet nes geskop. Met die hulp van hul vriend, Stanley Shane, is hulle aangestel om take te verrig wat Transnet self kon doen. Mnr. Shane het voortgegaan om die voorsitter van die twee sukkelende Transnetfondse te word, wie se pensioenarisse nou in 'n hofstryd van R80 miljard teen Transnet gewikkel is weens die stroping van hul fondse. Regiments is uit die bloute aangestel as die fondsbestuurder van die twee sukkelende pensioenfondse. Regiments is onlangs skielik verwyder toe ‘n transaksie van botsende belange aan die lig gekom het. Hierdie soort aksies vind reg voor die minister plaas terwyl sy weet dat duisende swart en wit Transnet-pensioenarisse in armoede leef. Baie van hulle pleeg selfmoord weens hul haglike situasie. Ek het by die minister gepleit om iets vir die mense te doen, maar die pleidooi het op dowe ore geval, net om nou te hoor dat sy selfs die Guptas naby hul pensioenfondse toegelaat het. Dit is ‘n skande dat sy toelaat dat duisende van haar oud-werknemers onder haar waak van armoede sterf. Sy moet hieroor optree indien sy ‘n hart het.

• Regiments het nou gedaante verwissel na Trillian Capital Partners, en nou word daar eers heerlik gestroop by Transnet. Maar dis nie al in hierdie sage nie. Nee, die draaiboek raak beter: Trillian het Eskom nou diep binnegedring met multimiljoenrand-kontrakte vir wie weet wat alles. En natuurlik bring die Eskom-konneksie ons by 'n sekere individu genaamd Brian Molefe, die hoof uitvoerende beampte of oud-uitvoerende hoof, nou hoof uitvoerende beampte, of dalk nie, van Eskom. Ook deeltydse parlementslid. Dis 'n bietjie verwarrend. So wat ook al mnr. Molefe is en doen behalwe om vooruitbetalings aan Tegeta te doen, weet ons dit: hy kry baie geld van Eskom om net in die omgewing te wees – selfs wanneer hy in die parlement rondhang. Hy was ook voorsitter van Transnet toe Transnet se twee pensioenfondse geplunder is. Oor die lot van die pensioenarisse was sy enigste reaksie om aan hulle te sê hulle verdien nie 'n beter lewe nie aangesien hulle voorheen bevoordeel is en dat hy vir hulle sal ‘wag’ indien hulle ‘n optog na die Uniegebou sou hou oor die saak. Mnr. Molefe is baie braaf wanneer dit daarby kom om oumense te dreig.

Aan mnr. Molefe wil ek net sê hy gaan die prys hiervoor betaal. Die VF Plus sal sorg dat jy en almal wat die pensioenarisse besteel het self bankrot verklaar word en in die tronk beland. Jy leef in weelde, maar die wiel gaan draai!

• Die Gupta-tentakels is oral sigbaar. Self by Denel is VR-Laser, Essa Salim en Gupta-speelmaatjie, se maatskappy gereed om deel te hê aan die strooptog. Daar is talle ander besigheidsgeleenthede waar die vindingryke familie ook besig is.

“Hierdie dinge gebeur reg onder die minister se neus. Sy moet nou optree. Indien sy nie iets doen nie, sal ons weet dat sy ook in die Guptas se sak is,” sê adv. Alberts.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.