Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die waarnemende stadsbestuurder van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM), mnr. Mandla George, versoek dat aandag geskenk en oplossings gevind word vir die toenemende aantal haweloses in Vierdelaan in Newtonpark, Gqeberha (Port Elizabeth).
Inwoners en eienaars van klein en medium sakeondernemings het die aangeleentheid onder die VF Plus se aandag gebring aangesien dit nie net ʼn veiligheidsbedreiging inhou nie, maar ook ʼn negatiewe impak het op hul sakebedrywighede.
Mnr. George het gehoor gegee aan die VF Plus se versoek en opdrag gegee dat die metro se koördineringskomitee vir die implementering van bywette oplossings vir die probleem ondersoek.
Die komitee moet ook met alle betrokke rolspelers soos maatskaplike ontwikkeling, die polisie en binnelandse sake in gesprek tree.
Die departement van openbare gesondheid in die metro is ook versoek om die situasie dringend te ondersoek en terugvoering te gee.
Hierdie samewerking om met die probleem van haweloses te handel, toon ʼn duidelik verbintenis tot die beskerming van die sakegemeenskap en inwoners van Newtonpark se belange.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas om te verseker dat die aangeleentheid vinnig en doeltreffend opgelos word.