Die jaarlikse hoogtepunt van die Suid-Afrikaanse skoolstelsel is die aankondiging van matriekuitslae. Dit span die kroon op die deel van elke mens se loopbaan wat begin as mens op 6 skool toe gaan en hopelik eindig met matriek, oftewel die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS). Vir ’n rekord 87,3% van kandidate was dit ’n suksesverhaal en hulle het die reg om dit te vier. Vir die ander 12,7%, dalk is dit een of twee persent in een of twee vakke. Skryf daai aanvullende eksamen en kry matriek!
In teorie is matriek ’n kwalifikasie wat mens vir verdere studie – en nie vir die werksplek nie – voorberei. Vir die meeste matrikulante is dit egter hulle laaste formele studie en daarom is dit so ’n hoogtepunt.
Die VF Plus wens elke suksesvolle matrikulant geluk. Vir dié wat nie die paal gehaal het nie, is dit nie rede om tou op te gooi nie. Daar is aanvullende eksamens en indien nodig, is dit selfs die moeite werd om ontbrekende vakke heeltemal oor te doen en aan die einde van die jaar weer te skryf.
Die algemene slaagsyfer van 87,7% en die KwaZulu-Natal-provinsie kan trots voel om die beste prestasie in die land te behaal. Dit is selfs nog belangriker dat alle provinsies meer as 84% behaal het, wat daarop dui dat hier ’n stelsel- en landswye verbetering is.
Die waarde van die NSS is dat dit goed gestandaardiseer is. Umalusi bewerkstellig dit met kundigheid en moeite. ’n Onderskeiding is dus ’n onderskeiding en ’n slaagpunt ’n slaagpunt, ongeag watter skool, watter gebied en watter assesseringsliggaam ter sprake is.
Dit is belangrik dat mense die NSS goed verstaan, omdat dit ’n belangrike rol by indiensneming en ander keurings speel. Die sertifikaat sal aandui dat die kandidaat geslaag het met toelating tot graad-, diploma- of hoërsertifikaatstudies. Alle matrieksertifikate is dus nie gelyk nie.
Die 2024-matrikulante is die laaste groep wat voor die inwerkingstelling van die Bela-wet matriek skryf. Die departement van basiese onderwys is dus verantwoordelik vir meer as 800 000 kandidate se eksaminering, terwyl die twee onafhanklike assesseringsliggame, die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) en Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SAKAI) onderskeidelik meer as 16 000 en byna 6 000 kandidate geassesseer het.
Onafhanklike onderwys is dus nog uiters beperk, maar dit kan as gevolg van Bela verander. Waar die IEB hoofsaaklik op onafhanklike skole fokus, is SAKAI ’n tuiste vir talle nie-konvensionele onderriginstellings – 88% het hulle skoolloopbaan met afstandsonderrig voltooi.
Vir die IEB en SAKAI om onderskeidelik ’n slaagpunt van 98,47% en 73,9% te behaal, dui op groot toewyding onder heel verskillende omstandighede. Namate die departement van basiese onderwys se greep op openbare skole verstrak, kan beide hierdie instansies toename in hulle getalle verwag.
Die departement van hoër onderwys is ook ’n rolspeler in hierdie verband. Die departement is vir die Nasionale Beroepsertifikaat (NC(V)) verantwoordelik, wat kandidate juis vir die beroepslewe voorberei. Met ’n slaagsyfer van NC(V) 4 (gelykstaande aan matriek) lyk dit of daar nog harde werk voorlê. Daar was ook meer ongerymdhede ter sprake, as by gewone skole.
Maar nou is dit tyd om geluk te wens en fees te vier, met oë wat vir die toekoms blink.