fbpx
Vryheidsfront Plus

Staatsrede-2023: Leë beloftes gaan niemand meer flous nie

Suid-Afrika het genoeg van leë beloftes gehad en pres. Cyril Ramaphosa kan nie bloot die planne en beloftes wat hy met vorige staatsredes aangekondig het, herhaal nie.

Hierdie leë beloftes van ANC-staatshoofde het ‘n patroon gevorm waar dieselfde planne jaarliks herhaal word of net effe gewysig word om die publiek te probeer flous.

‘n Voorbeeld is die belofte van 2022 dat meer gedoen moet word om ‘n gunstige omgewing vir die private sektor te skep om met ekonomiese groei te help.

Daarvan het niks gekom nie. Saam met administratiewe rompslomp is die striemende skroewe van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) net stywer aangedraai.

Daarvan getuig die Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid wat verlede jaar goedgekeur is.

Dit sal aan die minister van handel en nywerheid uitgebreide magte gee om self te besluit waar transformasie in die werkplek tekort skiet en wat nuwe transformasieteikens moet wees.

Die president moet dit nog net afteken. Dit is die teenoorgestelde van wat hy ‘n jaar gelede beloof het.

Wetgewing soos hierdie het Suid-Afrika se private sektor en die land se ekonomie onmeetbare skade berokken. Die president se mooi beloftes en die realiteit is duidelik twee verskillende dinge.

Van die ander staatsrede-beloftes het ewe min gerealiseer. Die president moet sê waarom dit nie uitgevoer is nie en hy moet daadwerklike planne aangekondig oor hoe die ekonomie gestimuleer gaan word.

Die president moet veral eerlik wees oor die voortslepende kragkrisis en hy moet die regering se plan hieroor in detail aankondig.

Dure ondervinding het egter al geleer om enige optimisme oor die uitvoerbaarheid van staatsrede-beloftes te temper.

Donderdag se staatsrede sal soos voorheen waarskynlik ‘n herhaling wees van groot idees en onuitvoerbare planne.

Die land se administrasie het onder die ANC só verval dat selfs haalbare planne moeilik in werking gestel sal kan word. Dit het die land in sy huidige krisis gedompel.

Die VF Plus voorsien nie enige afwyking van die resep waarmee die ANC Suid-Afrika oor byna drie dekades die grond in bestuur het nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.