Die VF Plus het gister tydens ‘n komiteevergadering oor korporatiewe dienste in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) kapsie gemaak teen die gebrekkige en ondeurdagte proses wat gevolg is in die munisipaliteit se poging om hondelisensies verpligtend in die munisipale gebied te maak.
Die kwessie oor die instelling van só ‘n beleid is toe terugverwys vir ‘n proses van openbare deelname waar alle belanghebbendes insette kan lewer.
Die VF Plus is eerstens bekommerd dat die instelling van hierdie lisensies op net nog ‘n vorm van belasting op getroue betalers gaan neerkom en dat dit boonop waarskynlik selektief toegepas sal word.
Die party het ook uitgewys dat die instelling van hierdie beleid verskeie praktiese implikasies vir die munisipaliteit kan inhou.
Wie, en kragtens watter wetlike magte, sal byvoorbeeld verantwoordelik wees vir die toepassing van die beleid en meegaande munisipale regulasies?
Wie gaan verantwoordelik wees vir die administrasie van die lisensies?
Het die munisipaliteit die nodige personeel en hulpbronne om die beleid toe te pas?
Is dit in die lig van die huidige benarde stand van dienslewering in die munisipaliteit enigsins finansieel regverdigbaar om skaars hulpbronne vir die instelling van die beleid aan te wend?
Matlosana se skuld vir water en elektrisiteit aan Midvaal en Eskom beloop immers reeds meer as R2 miljard. Munisipale infrastruktuur stort in duie en bestaande bywette en regulasies word reeds nie konsekwent toegepas nie.
Die VF Plus sal die proses bly monitor om te verseker dat die ANC-beheerde munisipaliteit die instelling van só ‘n beleid op ‘n reëlmatige en deurdagte wyse deurvoer.
Matlosana se inwoners verdien beter as die ANC.