fbpx
Vryheidsfront Plus

Staatsinmenging met Burger King-transaksie ‘n bedreiging vir vryemarkstelsel

Die terme en voorwaardes vir die Mededingingstribunaal se goedkeuring van die verkrygingsaanbod van Burger King Suid-Afrika deur die private ekwiteitsfonds ECP Africa Fund, hou ‘n ernstige bedreiging in vir vryemarkbeginsels en ekonomiese vooruitgang in die land.

Die verkryging was die eerste tot dusver wat die Mededingingskommissie wou kelder op grond daarvan dat dit swart ekonomiese bemagtiging (SEB) sou verminder.
Die aanvanklike verkryging van die Burger King-restaurantgroep deur ECP Africa Fund vanaf Grand Parade investments (GPI), ‘n Kaapse bemagtigingsfirma, sou volgens die Mededingingstribunaal SEB laat daal het wat volgens die tribunaal nie in “openbare belang” sou wees nie.

Die transaksie is uiteindelik deur die tribunaal goedgekeur onderhewig aan talle swart bemagtigingsvoorwaardes waaraan Burger King binne vyf jaar moet voldoen waaronder die drastiese vermeerdering van die aantal takke, dat minstens 1250 nuwe permanente werknemers uit sogenaamde voorheen benadeelde groepe aangestel moet word, verhogings in salarisse en werknemersvoordele, die opgradering van bemagtigingstelkaarte en ‘n effektiewe belang van 5% van werkers in Burger King SA.

Die Mededingingsraad en -tribunaal is regulerende skeppings van die Suid-Afrikaans staat en gee gedwonge seggenskap oor samesmeltings en verkrygings.

Hierdie vorm van werkswyse bevorder beslis nie ‘n vryemark-benadering tot die ekonomie nie. Indien daar in ‘n vryemark ingrypings moes wees, sou dit bloot wees om ‘n gelyke speelveld te verseker wat regulering en wetsaspekte betref, veral in die geval van staatsgesteunde instellings.

Dit is egter duidelik nie die bedoeling met plaaslike mededingingswetstoepassing nie.

Tans word mededingingswetgewing gebruik om die regering se SEB-doelwitte te bevorder en openbare belang word geplooi om politieke doelwitte te behaal

Die voortsetting van hierdie tipe regulering kan daartoe lei dat sekere ondernemings klein bly of nie uitbrei nie vanweë toenemende regulasie waaronder die ekonomie gebuk gaan.

Die VF Plus sal hom bly beywer vir die beskerming van ‘n vrye- en markgerigte ekonomie in Suid-Afrika.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.