Suid-Afrika kan nie bekostig dat die land se staalbedryf weens goedkoop staal vanuit China op die knieë gedwing word nie, en die regering sal invoerbelasting op staal moet verhoog in die belang van Suid-Afrika in sy geheel, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Adv. Alberts sê die regering moet die blaam dra vir die skok-aankondiging van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) dat hy sy Vereeniging-aanleg moontlik sal moet sluit aangesien gesprekke tussen Amsa en die regering op niks uitgeloop het nie.
“Die ANC-regering kan homself nie verontskuldig nie. Dit is duidelik dat hy nie veel erg aan die Nasionale Ontwikkelingsplan of aan die lang termyn-welstand van Suid-Afrika se ekonomie het nie en dat hy bereid is om die land se ekonomie ‘n groot knou te gee net om China ter wille te wees.
“Die VF Plus is vol vertroue dat die saak wel beredder kan word. Indien dit nie gebeur nie, en daar is groot werkverlies, moet die mense wat daardeur getref word, by die ANC se deur gaan aanklop om antwoorde.
“Werkloosheid in die Vaaldriehoek is reeds sowat 50%, maar die gevolge kan baie wyer uitkring as net werkverliese by die betrokke aanleg, aangesien die hele streek se ekonomie swaar leun op die staal-industrie.
“Die VF Plus is baie bekommerd oor die situasie en ons sal die komitee oor handel en nywerheid hierdie week formeel versoek om die invoerbelasting van staal te verhoog ten einde die bedryf te beskerm,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403