5Die kwota-uitsprake en dreigemente van mnr. Fikile Mbalula, Suid-Afrika se minister van sport, is so ver verwyder van die realiteit van die professionele sportwêreld en so gevaarlik afbrekend vir nasiebou dat dit hom ongetwyfeld die week se toekenning van ‘Nar van die Week’ besorg, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.
Mbalula se uitlatings die afgelope naweek dat die land se nasionale sportspanne eersdaags 60% swart spelers sal moet bevat en dat hulle internasionale deelname ontsê sal word indien dié ‘transformasieteikens’ nie bereik word nie, het skokgolwe in sportkringe veroorsaak.
Volgens adv. Alberts wys die uitbarsting van openbare verontwaardiging oor Mbalula se uitsprake duidelik dat die minister in ‘n bynes gekrap het.
“Die arrogansie en onkunde wat uit die voorstelle blyk, is verstommend. Waar sport sedert die eerste Rugby-Wêreldbekertoernooi in 1995 tot en met die laaste Sokker-Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika gebruik is om nasiebou te bevorder, word dit nou gebruik om verdeling en rassewrywing te veroorsaak.
“Die arrogansie van Mbalula om die wêreld te dreig dat ons spanne nie teen hulle gaan deelneem nie, slaan die asem weg.
“Het hy vir een sekonde gedink aan die impak wat dit sal hê op borgskappe en die ondersteuning van sportsoorte soos rugby en krieket as die spanne hoegenaamd nie meer kompeterend is nie? Dit gaan nie net sportmanne se loopbane en lewens vernietig nie, dit gaan sport in Suid-Afrika vernietig.
“Die voorbeeld van sokker is al baie gebruik. Maar dit kan ter voorbeeld weer afgestof word. Bafana was onlangs nog 54 ste op die Fifa-ranglys met ‘n span van uitsluitlik swart spelers. Waar is die kwotas vir hierdie span wat vir ander sportsoorte soos rugby en krieket geld?
“Mbalula en ANC is nie tevrede met meriete en prestasie nie. Hulle sal gevoelloos iets wat werk totaal afbreek en vernietig in die naam van transformasie, soos wat hulle tans met Suid-Afrika doen, en daarna waarskynlik die skuld op apartheid pak.
“Vir hierdie optrede kan ons nie anders as om aan Mbalula die week se toekenning van ‘Nar van die Week’ van die VF Plus te gee nie. En dit sou waarskynlik ‘n komiese speletjie gewees het indien die narstreke nie so gevaarlik vir die land was nie,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403