Die Johannesburgse metro het geen politieke wil om die munisipaliteit se bates te ontgin en sodoende meer inkomste te genereer nie. Boonop weet die metro self nie oor hoeveel bates hy beskik nie en dit veroorsaak dat werkskepping in die stad daaronder ly, sê mnr. Franco de Lange, VF Plus-raadslid vir die metro.
Volgens De Lange is die metro reeds 5 jaar lank besig om die munisipale bates te oudit, en is die proses is nog ver van klaar. Die oudit se begroting is ook onlangs gesny wat die proses nog langer gaan uitrek.
Daarbenewens het dit ook duidelik geword dat daar nie genoeg fondse is om basiese onderhoud aan die metro se eiendom te doen nie. Die waarde van die metro se eiendomsportefeulje word op bykans R5.7 miljard geskat.
“Die VF Plus is van mening dat die Johannesburgse metro werk kan skep deur slegs onderhoud op die bestaande eiendomsportefeulje te beplan en uit te voer. Daarby saam moet daar vinnig begroot word om die ouditproses af te handel sodat alle eiendom in die proses betrek kan word.
“Hoe is dit moontlik dat ‘n liggaam soos die Johannesburgse metro nie kan bepaal waar sy eiendom is nie? Dit wil voorkom asof die metro slegs belasting kan en wil invorder, terwyl geen pogings aangewend word om met bates te woeker en sodoende meer fondse vir die stad te genereer nie”, sê De Lange.
Raadslid Franco de Lange
082 358 3882